Drie Zimbabwiese burgers het op Maandagoggend 23 Maart vlugtig in die hof in Mookgophong verskyn in verband met die wrede moord op Alwyn van Zyl (78) op Vrydag 20 Maart.
Kort ná die moord het lede van die gemeenskap, Heritage Protection Group, die Mookgophong- en Modimolle-polisie, AfriForum, gemeenskapspolisiëringsforum, Wasp-veiligheidsgroep, Senyaka Nyaka-sekuriteit, Scorpion-sekuriteit, plaaslike boereverenigings en gemeenskapslede paaie afgesper. Lugsteun is deur Anton Venter, Daniël Opperman, Philip Hennop en Arien Oerlemans verskaf.
Die drie verdagtes is aangekeer en in hegtenis geneem ná die voorval op die plaas Badseloop buite Mookgophong.
Die lieflike kliphuis wat in 1886 deur die vermoorde Alwyn van Zyl se voorouers gebou is en waar hy en sy vrou, René, gewoon het.
Een van die verdagtes, Ugerius Saga (30), het beweer dat hy aangerand is en het mediese hulp gevra. Die ander twee, Loyd Mandumba (28) en Tatenda Ngwenya (32), is van Mokopane. Hulle word onder meer van huisbraak, aanranding en moord aangekla.
Die vierde verdagte is steeds op vrye voet. Die drie moet weer op Woensdag 25 Maart in dieselfde hof verskyn wanneer ’n vertaler wat Shona magtig is, die hofverrigtinge kan bywoon.
Die ondersoek duur voort.
’n Groep inwoners was in die hof, maar is versoek om na buite te gaan ingevolge nuwe wetgewing ná die Covid 19-uitbraak.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!