Ook die Abraham Kriel- kinderhuis trek deure dig
Huishoudings regoor die land was dié week in rep en roer om reg te maak vir die 21 dae lange inperking wat pres. Cyril Ramaphosa op Maandagaand 23 Maart aangekondig het.
Ouers het kopgekrap oor hoe hulle hul kinders in dié tyd nie net veilig nie, maar ook besig gaan hou. Gerda van der Merwe, hoof van die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle, was in dieselfde bootjie met die verantwoordelikheid vir sowat 170 kinders wat op haar skouers rus.
Die kinderhuis se hekke is reeds dig toegetrek teen die bedreiging wat dié virus inhou. “Die departement van maatskaplike dienste het ons aangesê dat die kinders nie hierdie vakansie na hul ouerhuise of familie mag uitgaan nie, maar eerder by die kinderhuis moet bly sodat ons seker is hulle is veilig,” het Van der Merwe gesê.

Verdere maatreëls wat ingestel word is dat die huisouers wat met verlof is moet terugkom kinderhuis toe. Slegs die huisouers en aflospersoneel wat op die terrein woon, sal werk. Ook net die noodsaaklike dienste sal voortgaan. Net een skof kombuiswerkers sal aan diens wees en die washuis sal aan die gang bly. Daar woon reeds ’n maatskaplike werker op die terrein wat sal diens doen.
“Ons het besluit ons sal kombuis- en washuiswerkers elke dag met ons eie bus gaan haal en aflaai sodat hulle nie blootgestel word op openbare vervoer nie,” het Van der Merwe gesê.
Die kinderhuis se aflewerings vir kos en ander noodsaaklike voorrade sal soos gewoonlik voortgaan. “Ons het ongelukkig nie genoeg bergplek om te veel voorraad te dra nie,” het Van der Merwe verduidelik.
Net soos enige ander ma sit huismoeders soms met hul hande in hul hare om bedrywige kinderlyfies besig te hou.
“Een van die huismoeders, Betsy Webber, het die blink plan gekry om van die laerskool kinders te laat kamp. Sy het ’n plek op die terrein uitgekies en dit in ’n klein kampterrein vir hulle omskep. Die kinders het dit ontsettend baie geniet.”
Die kinderhuis het gelukkig ’n groot terrein met baie spasie.
“Dit gaan ’n baie moeilike tyd vir ons almal wees. Ek glo vas as ons saamwerk sal ons hierdeur kom.”
- Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalter
Beste leser,
As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn. Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.
Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.
Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak.



