’n Stemboodskap is vanoggend (Vrydag) wyd in Die Pos se lesersgebied versprei waarin daar gesê word dat ’n groep mense, wat voorgegee het dat hulle mense vir die koronavirus (Covid 19) toets, op ’n sakeonderneming in Bela-Bela toegeslaan het.
Die departement van gesondheid, asook privaat hospitaalgroepe, het reeds vroeër die week aan Die Pos bevestig dat hulle glad nie dienste aanbied waar mense by hul wonings of sakepersele vir die virus getoets word nie.
Daar is voorheen gesê dat dié mense moontlik booswigte is wat op hierdie wyse toegang tot mense se eiendomme probeer verkry om ’n misdaad te pleeg.
In die stemboodskap word die sakeonderneming as “Bell’s Upholstery in Bela-Bela” uitgewys.
Daar is wel ’n onderneming met die naam Bell’s Upholstery and Canvas Specialists in die dorp, maar die eienaar van dié onderneming, wat in Sutterweg geleë is, het by navraag aan Die Pos gesê hulle deure is reeds in terme van wetgewing gesluit en niemand het hulle ook vandag of enige ander dag met so ’n versoek genader nie.
Internetsoektogte onder dieselfde naam het meestal verwysings in Amerika opgelewer, maar geen ander sakeonderneming in Suid-Afrika nie.
Die eienaar van die winkel in Bela-Bela het aan Die Pos gesê hy vermoed die stemboodskap is fopnuus.
Inwoners word steeds deur veiligheidsgroepe aangeraai om bewus te wees daarvan dat kwaaddoeners nou hard aan die werk is. Mense word aangeraai om die polisie van sulke voorvalle in kennis te stel.
Die Pos raai inwoners aan om asseblief doodseker te maak van die feite voordat hulle boodskappe aanstuur. Die regering het reeds afgekondig dat daar streng opgetree sal word teen mense wat fopnuus fabriseer.



