Talle inwoners wil by Die Pos weet hoe hulle vir dienste gaan betaal indien hulle nie werk nie en daarom moontlik minder of geen salarisse aan die einde van April sal ontvang nie.
Volgens die Bela-Bela-munisipaliteit kan inwoners beslis steeds ’n rekening verwag, want basiese dienste moet ingevolge wetgewing steeds tydens die inperkingstydperk gelewer word.
Jeremiah Ngobeni, burgemeester, asook Tinus Ras, DA-raadslid, het aan Die Pos bevestig dat die huidige kredietbeheerstelsel van die munisipaliteit steeds van krag is.
Melvin Marutha, hoof- finansiële beampte by die munisipaliteit, het by navraag aan Die Pos gesê daar is planne om te kyk hoe die munisipaliteit inwoners tegemoet kan kom, maar dié planne is nog glad nie gefinaliseer nie.
Hy het ook bevestig dat die munisipaliteit in geen posisie is om munisipale skuld summier af te skryf nie. Ingevolge die bestaande beleid word inwoners wie se rekeninge agterstallig is, aangeraai om reëlings met die munisipaliteit te tref om hul rekeninge oor ’n tydperk af te betaal.
Ras het gesê die munisipaliteit verkeer reeds onder finansiële druk en daarom is dit belangrik vir die dorp dat inwoners hul rekenings bly vereffen.
Mense wat hul munisipale rekeninge wil betaal, kan intussen ook kettingwinkels soos Shoprite en Checkers, wie se deure oop sal wees tydens die 21 dae inperkingstyd, besoek en dit daar betaal.
Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), het op sy beurt aan Die Pos gesê hy is bevrees dat die inperkingstyd die plaaslike werkloosheidsyfer kan verhoog.
Bela-Bela-inwoners kan voorlopig nuwe munisipale rekeninge teen Vrydag 17 April verwag.



