Inwoners bekommerd oor ambulansdiens én buurtwag
Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Sound Ear.
Die Pos het op Vrydag 3 April bevestiging gekry dat APA-ambulansdienste (Advanced Paramedic Assist) sy deure amptelik in die Waterberg sluit.
Werner van Rooyen, hoof van APA, het dit bevestig.
Dit is ’n groot slag vir Waterbergers wat altyd met lof van dié onderneming gepraat het.
Van Rooyen het gesê APA sal steeds mense vanuit Gauteng kan bedien. “Ons is dankbaar vir die Waterbergers se ondersteuning deur die jare, maar op dié stadium is ons genoodsaak om alle paramediese werk weens verskeie interne redes te staak.”
Andy Gill, wat APA in die Waterberg-omgewing bestuur het, het vroeër gesê hy is besig om ’n nuwe ambulansdiens op die been te bring, maar die proses is nog nie afgehandel nie.
Ambulansdienste word as noodsaaklike diens beskou tydens die koronavirus-pandemie.
Waterbergers is verder ook bekommerd omdat buurtwaglede in terme van die landwye inperkingsmaatreëls nie hul woonplekke mag verlaat nie. Inwoners steun swaar op die onderskeie buurtwagte om misdaad in die omgewing te help bekamp.
ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT
Ingevolge dié beperking is die polisie en weermag tans alleenlik verantwoordelik vir mense se veiligheid.
Janes Boshoff, lid van die Plaaslike-veiligheidsreaksiespan (RSRT-buurtwag), het by navraag aan Die Pos gesê buurtwaglede sal steeds die nodige hulp kan bied indien daar ’n mediese noodgeval in Bela-Bela is en ’n ambulans gereël moet word. Daar is ook verskeie ander beperkte dienste wat hulle steeds aan inwoners kan bied.
Hy het gesê dit is belangrik dat mense juis nou by hul buurtwagte inskakel.
* Vir nood gevalle kan inwoners die onderskeie buurtwagvoorsitters kontak: Deon Beukes by tel. 083 308 9502 of Chris Esterhuizen by tel. 082 807 7933.
Die beskikbare ambulansdiens in Bela-Bela is Life24 en kan bereik word by tel. 082 040 5003 of tel. 082 430 2066.
Die provinsiale EMS-ambulansdiens kan bereik word by tel. (014) 718 3800 of tel. 082 734 2054.
Baie dankie aan Sound Ear sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.




