Munisipaliteit nie bekommerd oor watervlak
Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur PEG Electrical.
Verskeie inwoners van Bela-Bela het die afgelope ruk laat weet dat hulle bekommerd is oor die dorp se watersituasie.
Foto’s van die ou Warmbad-dam buite Bela-Bela, wat duidelik wys hoe laag die watervlak is, word wyd op sosiale media gedeel. Bewerings word ook gemaak dat waterverbruik hoër as normaalweg is omdat mense tydens die inperkingstyd meer water gebruik.
Volgens Tinus Ras, DA-raadslid, toon een van dié foto’s dat die damvlak baie laag is.
“Ons is onseker of die hoeveelheid beskikbare water daagliks die dorp se reservoirs kan vul. Dié dam voorsien nie net water aan die dorp nie, maar ook aan nabygeleë boeregemeenskappe,” het hy gesê.
Die munisipaliteit het egter aan Die Pos gesê daar is nie rede tot kommer nie.
ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT
Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het kort en kragtig aan Die Pos gesê: “Daar is op hierdie stadium niks om oor bekommerd te wees nie.”
Ras het gesê hy was in gesprek hieroor met Sello Makhubela, munisipale bestuurder.
“Die munisipaliteit neem aan dat die damvlak oor twee weke, wanneer die inperkingstyd verby is, sal herstel,” het Ras gesê.
Intussen maak die dorp staat op Magalies Water, wat 45% van die dorp se water verskaf.
Ras het ’n beroep op inwoners gedoen om water spaarsaam te gebruik terwyl hulle tot hul woonhuise beperk is.
Baie dankie aan PEG Electrical sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.




