Local newsNews

Regstappe teen gedwonge isolasie by hospitaal

Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Life 24.

Vrae het die afgelope week ontstaan oor die omstandighede waarin Covid-19-pasiënte in isolasie by die MDR-hospitaal in Modimolle gehou word.

Dit volg nadat twee jong dokters van die dorp deur ’n hofbevel, wat deur die provinsiale departement van gesondheid verkry is, gedwing is om by die MDR-hospitaal aan te meld vir isolasie.

Die Pos het op Dinsdag 7 April met een van dié dokters, dr. Claire Olivier, gepraat, maar sy wou nie kommentaar lewer nie hangende regstappe teen die provinsiale departement van gesondheid.

Olivier en haar vriendin, ook ’n mediese dokter, word sedert Donderdagaand (2 April) in die hospitaal in isolasie gehou.

Olivier het op Saterdag (4 April) haar verjaardag in isolasie deurgebring

Die twee dokters was tuis in afsondering nadat hulle positief vir Covid-19 getoets is. Die provinsiale departement van gesondheid het egter besluit dat alle mense wat positief getoets word, by ingerigte eenhede in isolasie gehou moet word.

Die twee dokters is onder polisiebegeleiding van hul huis in Modimolle na die hospitaal geneem.

Die MDR-hospitaal het op Maandag 6 April ses pasiënte van regoor die provinsie gehuisves, het Thivlivhali Muavha, woordvoerder vir dr. Phopi Ramathuba, LUR van gesondheid in Limpopo, gesê.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Van die pasiënte wat in die hospitaal is, se vriende en familie beweer op sosiale media dat hulle nie medikasie ontvang, deur ’n dokter gesien of behoorlike etes ontvang nie.

Skokkende bewerings oor die behandeling wat pasiënte glo by dié hospitaal kry, word tans op die Facebookgroep “Support Group for COVID-19 patients at the Modimolle MDR TB Hospital” gemaak. Dié groep word deur Johann Abrie, DA-raadslid van Modimolle, bestuur.

Abrie sê hy tree op as tussenganger tussen ’n 53-jarige vrou van Lephalale en haar regspan en familie. Sy het glo simptome ontwikkel ná ’n buitelandse reis. Hy verwys op die groep na haar as “Pasiënt Nommer 3”. Volgens sy skrywe op die groep het sy haarself op hul plaas buite Lephalale afgesonder terwyl haar man tydelik elders gaan woon het. Sy is bygestaan deur ’n span mediese dokters wat haar op Donderdag 2 April aangeraai het om X-strale by die Lephalale Medi-Clinic te laat neem as voorsorgmaatreël. Die dokters het haar terug huis toe gestuur waar sy verder in afsondering was, het Abrie gesê.

Sy het glo egter op Saterdag 4 April ’n oproep van die department ontvang dat sy dadelik by die MDR-hospitaal moet aanmeld. Sy het glo self na die kliniek gery omdat sy geen ander keuse gehad het nie. Volgens Abrie het die personeel met haar aankoms glo nie geweet dat sy sou opdaag nie. Hy beweer sy is na ’n kamer geneem en het eers die volgende dag kos ontvang, hoewel sy ’n diabeet is. Daar was glo nie eetgerei by nie en sy het net ’n plastiese teelepel gekry nadat sy vir eetgerei gevra het. Sy is volgens hom nie deur ’n dokter ondersoek nie. “Pasiënt Nommer Drie” is glo aangesê om self haar temperatuur te neem en die lesing deur ’n venster of per telefoon aan die personeel te gee.

Abrie het by navraag aan Die Pos gesê dié vrou win ook tans regshulp in.

* Die Pos het herhaalde boodskappe oor die bewerings aan Muavha gestuur na die nommer wat die koerant sedert die inperkingsbevel gebruik, maar geen terugvoer ontvang nie.


Baie dankie aan Life 24 sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button