Drie pasiënte verlig om uit MDR-hospitaal te wees
Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Pavecon.
Die twee jong dokters van Modimolle, drs. Taryn Williams and Claire Olivier, is vanoggend (Woensdag 8 April) ná ses nagte in isolasie in die MDR-hopsitaal in Modimolle ontslaan.
Olivier het vanoggend aan Die Pos bevestig dat hulle veilig tuis is.
Elmarie van Emmenis van Lephalale, wat sedert Saterdag 4 April in afsondering by dieselfde hospitaal gehou is, is ook ontslaan.
’n Groot herrie het die afgelope week ontstaan toe bewerings oor die haglike omstandighede by dié hospitaal op sosiale media die ronde begin doen het.
ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

Dit het gevolg nadat die twee dokters, wat in Modimolle woon maar by die Mmametlhake-hospitaal in Mpumalanga (naby aan Settlers) werk, onder polisiebegeleiding na die MDR-hospitaal geneem is nadat hulle positief vir die Covid-19-virus getoets het. Die provinsiale departement van gesondheid het ’n hofbevel bekom om hulle te dwing om by dié hospitaal opgeneem te word, hoewel hulle volgehou het dat hulle aan die nasionale riglyne vir self-isolasie voldoen het. Die Suid-Afrikaanse mediese vereniging het heftig in ’n ope brief gereageer op dié streng stappe waarop dr. Phopi Ramathuba, LUR van gesondheid in Limpopo, aangedring het.
Olivier het gister aan Die Pos gesê hulle win regshulp oor dié gedwonge isolasie in.
Die departement van gesondheid het egter vanoggend ’n mediaverklaring uitgereik waarin hulle sê die dokters se toetsuitslae het negatief teruggekom.
Ook van Emmenis het regshulp oor haar gedwonge opname by dié hospitaal ingewin. Gideon Ferreira, ’n prokureur van Modimolle, tree as Van Emmenis se regsverteenwoordiger op. “Ons het gister ’n aanmaning aan die LUR gestuur waarna sy besluit het dat Van Emmenis ontslaan kan word,” het hy aan Die Pos bevestig.
Van Emmenis het by navraag gesê sy is dankbaar om tuis te wees ná hierdie onaangename ervaring. Sy het drie weke gelede siek geword en gesê sy toon die afgelope ses dae reeds geen simptome meer nie. “Ek was gelukkig om net liggies siek te word.” Sy wag op die uitslae van die laaste toetse en is nou weer tuis in afsondering.
“Claire het my selnommer iewers in die hande gekry en ek was so dankbaar toe sy vir my ’n boodskap gestuur het — dit was my reddingsboei. ’n Mens is rustiger as jy weet daar is nog mense om jou. Ons kon deur die glas vir mekaar waai en boodskappe stuur,” het Van Emmenis vertel.
“Soveel mense het my gehelp. Ek is dankbaar teenoor Johann Abrie van die DA en Marcelle Maritz van die Vryheidsfront Plus, asook teenoor my prokureur. ’n Vreemde predikant en maatskaplike werker het gebel om my te ondersteun en AfriForum en individue het my geskakel om hulp aan te bied. Nie een van hulle ken my eens nie. Ons moet besef dat ons nou almal mekaar sal moet help,” het sy gesê.
Sy het gesê sy besef dat haar en die twee dokteres se onaangename isolasietyd ’n belangrike rol gespeel het om aan te dui hoe onvoorbereid die provinsiale departement van gesondheid is om die dreigende krisis wat die Covid-19-virus inhou, te hanteer.
Baie dankie aan Pavecon sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig niep moontlik sou wees nie.



