Local newsNews

Valke ondersoek klag teen DA-burgemeester

Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Sanlam.

Die Valke ondersoek ’n klag van bedrog teen Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, nadat ’n klaer beweer het dat sy op ’n onreëlmatige wyse reiskoste geëis het.

Van Staden ontken dié bewering en het by navraag gesê die klaer is net “ontsteld omdat geld nie meer vanuit die munisipaliteit geplunder kan word nie”.

Die Pos het in die verlede herhaalde kere berig hoe die DA-leierskap by dié munisipaliteit die geldkoffers probeer regruk en stappe doen teen amptenare wat van korrupsie verdink word.

Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, het aan Die Pos gesê hulle het pas die dossier van die polisie ontvang.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

“Ons kon nog nie volledig ondersoek instel na die tydperk waarin die beweerde bedrog plaasgevind het of die bedrag wat glo betrokke is nie,” het hy gesê. Hy het gesê die bewerings gaan oor reisonkoste wat glo geëis is asof daar met ’n privaat voertuig gery is, terwyl Van Staden met ’n munisipale voertuig gery het. Daar sal ook gekyk word na die gebruik van haar brandstofkaart, het hy gesê.

Volgens Van Staden is haar ampsvoertuig ’n dubbelkajuit Izuzu-bakkie met bykans 190 000 km op die klok. Inwoners sien haar gereeld met dié voertuig rondry.

Van Staden het die klagtes as kwaadwillig bestempel.

Raadslid Hercules Louw, hoofsweep van die Modimolle-Mookgophong-munispaliteit, het in ’n mediaverklaring gesê die DA-leierskap en die munisipaliteit se rekenpligtige beampte nooi die ondersoekspan uit om die munisipaliteit te besoek om hulself te vergewis van die “onbesonne beweringe”.

“Dit wys net dat diegene wat die munisipaliteit en sy geldsake wil kaap, selfs in hierdie tydperk waarin die land hom bevind, sameswerings besplan,” het hy geskryf.


Baie dankie aan Sanlam sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig niep moontlik sou wees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button