Local newsNews

Amptenare sê optrede sal verskerp word

Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur André Kock en Seuns.

Verskeie rolspelers in die gemeenskap van Mookgophong het vanoggend (9 April) kragte saamgesnoer om ’n bewusmakingsveldtog van Covid-19 in die dorp te loods.

Die veldtog is onder leiding van brig. Anneline Steyn, groepsbevelvoerder van Modimolle, geloods.

Volgens kol. Jan Koekemoer van die plaaslike polisiekantoor was die departement van gesondheid, die plaaslike munisipaliteit, verkeersafdeling, polisie en die kantoor van die LUR betrokke en is daar deur middel van ’n megafoon met inwoners gepraat. Daar is opnuut aan inwoners verduidelik hoe belangrik dit is om in hierdie tydperk tuis te bly en afstande te handhaaf indien mense gaan inkopies doen.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

“Die doel van die projek was om inwoners opnuut bewus te maak van die gevare van Covid-19 en ook aan hulle te verduidelik dat daar streng opgetree sal word teen inwoners wat nie die regulasies nakom nie,” het Steyn gesê.

Die polisie het ook woongebiede se strate gepatrolleer en inwoners bedank vir hul samewerking.

Koekemoer het gesê die polisie beskou wetstoepassing in dié verband in ’n ernstige lig en verskeie klagtes word ondersoek.

Die Pos het opgemerk dat daar steeds inwoners is wat doelloos op straat is en nie gehoor gee aan die wet nie. By een plek waar kos verkoop word, was daar meer as 20 mense gelyktydig in die winkel en niemand het die toegang gemoniteer nie. By die meeste winkels het werkers egter maskers gedra en handreiniger by die deure verskaf.


Baie dankie aan André Kock en Seuns sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button