Oppas tog vir fopnuus!
Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Matthysen Oudiologie.

Inwoners van Mookgophong is Vrydagmiddag 17 April op hol gejaag toe gerugte die ronde gedoen het dat iemand wat positief vir Covid-19 getoets is, in kontak was met werknemers van ’n apteek in die dorp.
’n Aftreeoord in die omgewing het op hul briefhoof inwoners gevra om nie die apteek in die dorp vir die volgende 14 dae te besoek nie. Daar word egter nie gesê dat die “besmette” persoon van Mookgophong is nie.
’n Dokter se naam is ook genoem wat beskikbaar sou wees by die oord om mense wat moontlik besmet is, te konsulteer.
ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT
Thilivhali Muava, mediaverteenwoordiger van die kantoor van die LUR van departement van gesondheid in Limpopo, het by navraag aan Die Pos gesê daar is tans geen bevestigde gevalle in Mookgophong nie.
Muava het dit sterk beklemtoon dat slegs die minister van gesondheid aankondigings van bevestigde gevalle mag maak.
Hy het ’n ernstige beroep gedoen op mense om nie onbevestigde berigte op sosiale media te versprei nie.
* Die Pos maan inwoners om asseblief verantwoordelik te wees wanneer boodskappe oor Covid-19 op sosiale media versprei word. Die verspreiding van fopnuus in dié verband word tans as ’n strafbare oortreding beskou.
Baie dankie aan Matthysen Oudiologie sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.




