Kinderhuis se skenkings droog op
Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Montagu in Bela-Bela.
Die ekonomie wat tot stilstand kners, wys ook gevaarlike tande vir die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle.
Borge wat hul inkomste verloor het en skenkings wat nie afgehaal kan word nie, het die kinderhuis genoop om ’n noodfonds te stig sodat hulle aan die 170 kinders in hul sorg se behoeftes kan voldoen. Dié stap kom nadat die kinderhuis ’n verslag aan die Minister in die Presidensie voorgelê het om hul geldelike posisie uiteen te sit.

Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, het op Dinsdag 21 April gesê die pandemie het ’n groot verlies aan inkomste meegebring.
“Die moeilike ekomiese tye dwing van ons gereelde borge om te onttrek. Ons het ’n borg by die Pretoriase groentemark, maar omdat ons nie oor die provinsiale grense mag beweeg nie, kan ons nie die produkte gaan oplaai nie. Dit geld ook vir die R5 000 borg wat ons van Dischem af ontvang.”
Die staatsubsidie wat hulle ontvang, dek slegs 50% van hul uitgawes, het Van der Merwe gesê.
Die kinderhuis het reeds hul hekke op Woensdag 18 Maart toegetrek — kort voordat die formele inperking begin het. Slegs noodsaaklike personeellede in die kombuis en washuis beweeg van die terrein af en word deur die kinderhuis se bussie vervoer. Diegene wat op die terrein woon, verlaat glad nie die terrein nie en administratiewe personeel werk van die huise af. Slegs die terreinbestuurder doen inkopies.
ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT
“Van die kinders het hul families in Desember laas gesien, maar hulle verstaan dat dit om veiligheidsredes is,” het Van der Merwe gesê. “Die kinders het nie vrye toegang op die terrein nie en meng slegs met die ander kinders in hul huise.”
Dié streng maatreëls word ook gevolg omdat die kinders nie toegang tot privaat mediese sorg het nie.
Die kinderhuis het 15 huise met elk 10-12 kinders onder die sorg van ’n huismoeder of -vader. Die huismoeders en -vaders moet die huise in stand hou en ook toesien dat die kinders bybly met hul skoolwerk. “Die kinders is in verskillende grade en in verskillende skole en dit is ’n groot uitdaging.”
Van der Merwe het gesê hulle besef dat baie mense self nou sukkel. Hulle hoop om met die noodfonds eerder klein bydraes by soveel moontlik mense te kry sodat dit vir die publiek ook volhoubaar is.
“Ons stuur vandag vir pres. Cyril Ramaphosa se raadgewers inligting oor die impak van die inperking op ons werksaamhede en volhoubaarheid. Die regering moet ons beter ondersteun, maar ons sal ook nie toelaat dat ons kinders swaarkry nie en daarom tref ons ander maatreëls om seker te maak ons oorleef,” het sy gesê.
Sy het gesê besparingsmaatreëls is reeds getref. “Die luukses was reeds nie baie nie, maar ons probeer ons koste te sny deur eenpot-etes voor te sit, party dae nie vleis op die spyskaart te hê nie en in plaas van geskenke te vra dat mense eerder toiletware gee. Mense is verbaas as hulle besef hoeveel kos nodig is om 170 kinders te voed — ons gebruik ses tot agt sakke aartappels vir ’n enkele ete.”
Die kinderhuis se elektrisiteitsrekening het ook die afgelope paar maande met 14% gestyg.
Inwoners kan die kinderhuis ondersteun deur ’n SMS te stuur na tel. 39236 met hul naam en “noodfonds”. Die koste beloop R15.
Die kinderhuis se bankbesonderhede is Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom, bankrekeningnommer 1100 140 000, Absa-bank, takkode 632005 Modimolle en dit is ’n tjekrekening.
Vir meer inligting, bel Van der Merwe by tel. 082 410 2635.
Baie dankie aan Montagu in Bela-Bela sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.




