BlogsOpinion

Kwaad, kwater, woedend

Voor ’n mens jou oë uitvee was jy een, twee, drie dekades lank woedend terwyl soveel mooi by jou verbygegaan het.

“Woede is so ’n useless emosie,” het Connie van Wyk, ’n inwoner van Bela-Bela, eendag lank gelede tydens ’n onderhoud vir my gesê.

In die bykans 25 jaar dat ek by die koerant werk, is dit van die beste raad en raakste vermanings wat ek nóg gekry het.

Hier by die koerant het ons baie met woede te doen. Mense is kwaad. Vir die regering, vir hul bure, vir diegene wat hulle te na gekom het, ag, sommer vir almal. En soms sien ’n mens hoe woede en wraak mense verteer. Want, kom ons erken dit nou maar: mense doen die allerverskriklikste goed aan mekaar.

 

Foto: pexels

 

Van die rouste woede wat ons aanskou, is by mense wie se geliefdes leed aangedoen is. Of hul troeteldiere. Mense wat gekul is uit swaarverdiende geld of beleggings. Mense wat belieg en bedrieg of ontsettend sleg beskinder is. Of vals beskuldig is. ’n Mens voel soms lus om saam te ween as jy na van dié stories luister.

Ons hoor baie keer: “Die mense sê dit is maklik om te vergewe totdat hulle wérklik iets het om te vergewe.” Dit is duidelik makliker om te vergewe as die oortreder gestraf word of erg ly weens hul oortredings. Dit is ’n heel ander saak wanneer die oortreders die slagoffers en hul families triomfantlik uitlag. Hulle koggel. Of net voortgaan om rond te pronk in die dorpe asof botter nie in hul monde kan smelt nie.

En dan, wanneer ek sulke stories hoor, wil ek altyd Connie se raad van dekades gelede uitdeel. Want woede en wraakgedagtes is ’n opvreter van vreugde. Dit is ’n steler van slaap. Dit is ’n veroorsaker van blou kringe onder die oë en harde lyne om die mond. Dit is ’n gemene energieverskaffer wat ’n mens op al die verkeerde terreine woema gee en dan soos ’n voosgeslaande bokser na jou hoek toe laat strompel.

Dit dryf mense na hul selfone en toetsborde met die duiwel in hul vingers. Dit is ’n donker monster met ’n onversadigbare aptyt vir hulpmiddels soos alkohol, kalmeer- en slaappille.

En voor ’n mens jou oë uitvee was jy een, twee, drie dekades lank woedend terwyl soveel mooi by jou verbygegaan het.

Moenie. Maak asseblief werk daarvan. Kry hulp. Want woede is regtig, régtig — soos Connie jare gelede gewaarsku het — so ’n useless emosie.

Related Articles

Back to top button