BlogsOpinion

Waaroor ek nie wil skryf nie

Eintlik wil ek nie oor die virus of die grendelstaat skryf nie.

Ook nie oor die kospakkies wat deur vraatsige regeringsbeamptes en politici gekaap word nie.

Ek wil ook nie skryf oor sakeondernemings wat doodbloei en mense wat motor- en huispaaiemente, polisse en mediese fondse kanselleer nie.

Ook nie oor die tant Stienies wat soos meerkatte op hul stoepe sit en die bure dophou of in die dorp rondry om te kyk waar daar dalk iemand is wat die wet oortree en aangegee moet word nie.

Ek wil nie skryf oor matriekkinders wat vreesbevange is oor die eksamen, die leerplan of die studiemetodes nie.

Ek wil nie vertel van die mense — van kleuters tot bejaardes — wat in ’n diep donker gat wegsink oor die gevegte by die huis, hul ouers se geldelike bekommernis, die verlies aan maats en sosiale interaksie nie. Ek wil ook my mond hou oor oumas wat alleen by hul huise val en seerkry, maar nie nou getroos en vasgehou kan word nie.

Ek wil nie sê van die vrou wat by Die Pos se kantoor inkom en vertel: “Weet julle hoe lyk dit in die dorp? ’n Mens herken niemand met hul maskers op nie. Jy sien net hierdie groot, vreesbevange oë bo die maskers.”

Eintlik moet ek skryf oor die swaar blombak by my (groen) swembad waar ek soms steun-steun in my pienk japon opklim en my buurvrou roep vir ’n “home delivery”. Dan kom sy uit en ontvang ’n bak poeding of koekies wat my tienerkind gemaak het. Drie of vier dae later roep my buurvrou my om dieselfde bak weer oor die muur aan te vat. Dié keer met yskastert, souttert of een of ander liplekker dis wat haar man gemaak het. So kry ons die tyd om. Deur dieselfde glasbak met klein opbeur-offertjies vir mekaar oor die muur aan te gee.

Ek moet liefs uitbrei oor die mense met die omgeeharte. Wat sélf swaarky, maar wragtigwaar swoeg en sweet en kospakkies verpak en aflewer vir “hulle wat swaarkry”.

Of ek moet skryf oor die vriendin wat my bel en sê sy los vir my ’n bakkie koekies op die pilaar by haar hek.

“Sit sommer jou stukkende stofsuier ook voor die hek neer dat my man kan kyk of hy dit vir jou kan herstel.”

Ek moet jubel oor die bejaarde inwoner wat maskers in ’n plastieksakkie by haar voordeur vir my laat om op te laai en vir noodwerkers en behoeftiges uit te deel. Of oor die personeellede wat in dié verskriklike tye vir hul werkgewers laat weet: “Ek dink aan jou. Ek is by die werk; selfs al kan jy my nie nou betaal nie.”

Ja, ek moenie skryf oor daardie eerste goed nie. Nie vandag nie. Vandag het ek nodig om oor die mooi te skryf.

Related Articles

Back to top button