Leerders van Hoërskool Warmbad het sedert die begin van die inperkingstyd sowat ses weke gelede met daaglikse aanlynklasse begin wat deur hul onderwysers aangebied word.
Rikus Labuschagne, die Warries se hoofseun, het aan Die Pos gesê die matrieks mis die persoonlike interaksie met hul onderwysers, asook met hul vriende.
“Ons is gemiddeld drie uur per dag besig met aanlynklaswerk. Wanneer ons vrae het, kan ons nie soos altyd net ons hande opsteek en vra nie. Ons moet deur Whatsapp met die onderwysers kommunikeer.”
Rikus sê daar is ’n moontlikheid dat matrieks se roosters kan verander sodra hulle terugkeer skool toe om die aantal leerders per klas te beperk.
“Die skoolbestuur kyk na alle opsies om die leerders te akkommodeer én veilig te hou.”
Volgens hom sal dit egter ’n groot uitdaging vir skole wees om toe te sien dat die korrekte sosiale afstande tussen leerders gehandhaaf word.
Hy is bekommerd oor die akademie omdat afstandsonderrig groot uitdagings inhou en die komende rekordeksamen om die draai is.
“Daar is van ons wat bekommerd is dat ons ons universiteitskeuring gaan verloor indien die akademie nie op standaard is nie. Ek gaan maar net aanhou om my bes te probeer sodat ek wel aanstaande jaar inligtingstegnologie aan die Universiteit van Pretoria kan studeer.”
Rikus voel ook dat hy onfiks geraak het in die grendeltyd. “Ek het verlede jaar die geleentheid gehad om in Spanje hokkie te gaan speel en sou vanjaar met ’n hokkiegeleentheid Nederland toe gegaan het, maar dit is nou van die baan.”
Rikus het gesê hy en sy vriende gee gehoor aan die inperking, maar bly almal steeds in kontak danksy sosiale media. Hy help tuis met los takies, speel aanlynrekenaarspeletjies en gebruik die tuin se spasie om van energie ontslae te raak.
“Dit maak nie saak hoe moeilik dit raak of wat die omstandighede is nie. God is met ons. Sy lig sal ons lei en Hy sal ons beskerm in hierdie tyd.”



