Gerugte dat die pas aangestelde waarnemende munisipale bestuurder van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit ná slegs vier dae bedank het, het vandeesweek soos ’n veldbrand op Modimolle versprei.
Die ervare Mapule Felicity Makoko is op Donderdag 10 Mei deur die raad aanvaar nadat sy deur die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) gesekondeer is.
Die vorige munisipale bestuurder, OP Sebola, se kontrak het einde Maart verstryk.
Die proses om ’n nuwe bestuurder aan te stel is egter van stryk gebring nadat Henry Lubbe, die bestuurder van korporatiewe dienste, ’n aansoek teen Sebola (wat wéér op die kortlys verskyn het) in die hooggeregshof gebring het.
Lubbe voer aan dat Sebola se naam onregmatig op die kortlys geplaas is en sy eie aansoek onregmatig afgekeur is.
Die hof het beveel dat die aanstelling nie mag voortgaan totdat die meriete van Lubbe se saak nie aangehoor is nie. Makoko is vir ’n tydperk van drie maande aangestel sodat die proses gevolg kan word.
Die Pos het Makoko op Woensdag 23 Mei geskakel.
Sy het ontken dat sy bedank het en gesê sy is op pad werk toe. Sy het die gesprek daarna beëindig.
Bronne in die munisipaliteit het egter bevestig dat sy wel die vorige dag gesê het dat sy bedank.
Teen druktyd kon geen kommentaar van CoGHSTA se woordvoerder verkry word nie.
Een van die DA-raadslede, Johann Abrie, het in ’n teksboodskap aan Die Pos gesê: “Met 30 jaar ondervinding in plaaslike bestuur, en nadat die Limpopo-provinsie haar na Modimolle gestuur het, het die munisipale bestuurder, Mapule Felicity Makoko, vanmiddag die hasepad gekies.
“Die munisipaliteit is sodanig onderdeur dat sy nie kans sien om dit te probeer red nie,” het hy gesê.
Die Pos het verlede maand berig ’n hoë vlak ondersoek na beweerde grootskeepse bedrog by die munisipaliteit is tans aan die gang. Ondersoekers vermoed dat die brand by die Mookgophong-lisensiekantoor in April daarmee verband hou. Dit is ook geen geheim dat die munisipaliteit in ’n diep geldelike verknorsing is nie en Eskom dreig met kragonderbrekings weens meer as R260 miljoen se skuld.
“Alles gaan ten gronde. ’n Mens het gevoel dinge verbeter, maar elke fasset gaan agteruit — of dit nou Eskom, paaie of riool is. Ek is ’n optimis, maar ’n mens kan jou nie blind staar teen dit wat aan die gebeur is nie,” het Johan Prinsloo, VF Plus-raadslid, by navraag gesê.
Marlene van Staden, burgemeester, wou nie kommentaar lewer oor gerugte dat die munisipale bestuurder bedank het nie. Patrick Shika, munisipale woordvoerder, het gesê dat hulle nog geen brief van Makoko ontvang het nie en dat sy aan die LUR vir CoGHSTA rapporteer.
Rufus Mahoro, hoofsweep van die ANC in die raad, het ook gesê dat hulle nog geen kommunikasie daaroor ontvang het nie. “Dié waarnemende bestuurder is een van die mees ervare mense wat plaaslike bestuur betref,” het hy gesê.
For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za



