Gereelde aanvalle op inwoners van plase veroorsaak dat dié inwoners hul veiligheid opskerp — almal is egter nie geldelik daartoe in staat om alarmstelsels en heinings te installeer nie.
Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se sektor 3 in Modimolle het 10 alarmstelsels aangekoop wat hulle aan inwoners wat dit nie kan bekostig nie, bejaardes en vroue wat dikwels alleen tuis is, wil gee. Die aankoop van dié alarms is moontlik gemaak deur donasies van hul lede, het Gerhard Visser, voorsitter, gesê.
Hy het gesê die alarms kan vroeg waarsku as daar moeilikheid is en hulp kan vinniger ontbied word. Die alarms het ’n ogie, sirene en kan op ses selfone ingeskakel word wat noodboodskappe sal ontvang. Alarms kan ook by die GPF aangekoop word.
“Ons probeer om meer georganiseerd te werk en het ons gebied in blokke opgedeel. Inwoners in dieselfde blok kan vinniger reageer op ’n noodgeval,” het hy gesê.
Geskeduleerde patrollies word in elke blok gery. Hul lede ontvang ook opleiding in toneelbewaring sodat leidrade nie verlore gaan vir die polisie se ondersoek nie, asook hoe om ’n huis in te gaan ná ’n aanval. Hul plaaswaggroep het meer as 50 lede.
Vir meer inligting bel vir Visser by tel. 082 964 3498.
For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za



