Skitter soos ’n ster
Die meisies van die verteenwoordigende raad van leerders (VRL) van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong bied jaarliks ’n geleentheid aan waar ma’s en dogters saam ’n heerlike aand van eet en kuier kan geniet.
Hierdie spoggeleentheid word deur Gerda Swanepoel, onderwyser en kultuurhoof by die skool, gereël en ’n bekende spreker tree tydens dié aand op.
Lynette Beer, motiveringspreker en teoloog van Pretoria, was vanjaar die gasspreker by die ma-en-dogter-aand op Maandag 14 Mei in die skoolsaal. Die tema was “Jy is ’n ster” en die meisies het hul tafels volgens die tema gedek. Daar was oral sterre van verskillende kleure en groottes te sien. Sommiges het selfs die eetgoed in die vorm van sterre voorgesit.
Beer het die gehoor op ’n skitterende wyse vermaak met haar praatjie oor die verskillende geaardhede van die proto-psigologiese teorie wat mense in vier kategorieë verdeel. Sy het na die kleure geel, rooi, groen en blou verwys. Volgens haar moet elkeen weet in watter kategorie jy val om jouself te vind en te verstaan.
“Jy moet eers kies om van die lig in plaas van die duisternis op te tree en eers dink alvorens jy doen. Jy kan nie jou geaardheid verander nie, maar as jy weet wie jy is, kan jy dit korrek aanwend,” het sy gesê. Volgens haar word die geaardhede van geel- en rooi mense deur woede aangespoor en dié wat groen en blou is deur vrees.
“Dit was so insiggewend en kostelik, want ons lewens bestaan uit mense en interaksies met mekaar. Om te weet wat ’n persoon se geaardheid is, bepaal ook sy of haar optrede. Ons het dit terdeë geniet,” het een van die Hansie-ouers gesê.



