Vaalwater-egpaar vier hul 70ste huweliksherdenking
Jan (92) en Santjie (88) Leonard van Vaalwater het op Dinsdag 29 Mei hul 70ste huweliksherdenking gevier.
Die Leonard-egpaar is in 1948 in Bergville, KwaZulu-Natal, getroud en woon al die afgelope 12 jaar by hul jongste seun en sy gesin in ’n selfsorgeenheid in die dorp.
Jan is in Bergville gebore en Santjie in Harrismith, Vrystaat. Die egpaar het sewe kinders, 16 kleinkinders en 17 agterkleinkinders. Hul kinders, Manie en Katy, is in Ladysmith gebore terwyl Hettie, Elise, Charles, Johan en Marie in die destydse Salisbury, Rhodesië, gebore is waar die egpaar geboer het. Manie, Katy en Elise is reeds oorlede.
Johan Botha, wat met hul dogter Hettie getroud is, het aan Die Pos vertel dat Santjie as 16-jarige haar hare in die son drooggemaak het toe Jan te perd vir sy niggie gaan kuier en hy haar gesien het. Hulle is twee jaar later getroud.
“Hulle raad oor ’n huwelik is dat dit nie altyd maklik sal wees nie, maar dat ’n mens eerlik, getrou en liefdevol teenoor mekaar moet bly. Werk hard daaraan om probleme op te los en moenie kwaad gaan slaap nie. Skei is beslis nie ’n woord nie,” het Botha gesê.
Al die kinders, klein- en agterkleinkinders wil die egpaar oorvloedige seën toewens en dankie sê vir die jare se goeie voorbeeld wat hulle uitleef, het Botha gesê.



