LettersOpinion

Baie bekommerd oor DA se rigting

Dit is wat politiek ’n “vuil speletjie” maak.

Kobus van der Merwe, voormalige DA-raadslid van Bela-Bela, skryf:

Ná 12 jaar diens in die Bela-Bela-gemeenskap het ek gedink dat dit goed is om be-tyds plek te maak vir “nuwe bloed” en dat ’n ander persoon beter, positiewe resultate in ons dorp kan lewer.

Daar is egter op nasionale vlak bekommernis oor die rigting wat die Demokratiese Alliansie (DA) deesdae inslaan, asook binnegevegte en dispute onder senior leiers.

Dit blyk dat hierdie tendens ook op provinsiale vlak voorkom en indien daar ’n “siekte” is, is dit alles toe te skryf aan “die eie ek, posisie, titel en die pos” wat beklee word.
Dit is wat politiek ’n “vuil speletjie” maak.

Dit blyk dat daar soveel mense is wat raadslede, lede van die wetgewer of parlement wil word, maar nie ’n idee het watter kwaliteite, karakter, waardes, visie en kennis nodig is vir sukses nie. Dit is asof leiers van álle partye vasgegryp word deur selfsugtige en kortsigtige doelwitte.

Dit is vir my sorgwekkend om te verneem dat vername DA-leiers en personeellede twee dae voordat onderhoude vir die kandidaatskap van my vakante wyk op Bela-Bela gevoer word, sosiale kuiertjies met kandidate hou en dit openlik op sosiale media plaas. Aan die DA wil ek sê: dit breek die party se karakter af.

Desirée van der Walt, die kiesafdelingshoof, is twee weke gelede summier na ’n ander gebied verplaas en daarvoor gee ek die leierskap ’n absolute nul vir tydsberekening. Dit blyk ook dat daar nou ’n heksejag gemaak word op Van der Walt en ’n soort veldtog geloods word “om te kyk hoe sleg Van der Merwe was”. As die DA die komende wyksverkiesing wen, sal iemand anders as “Kobus en Desirée” seker die erkenning kry vir die “harde werk” en as die DA verloor, sal ons twee seker verkwalik word.

Wat pateties is, is dat ek ná twee maande nog nie een briefie, SMS of e-pos van die leierskap ontvang het vir 12 jaar se harde werk nie.

Gelukkig het ek ’n magdom dokumente, e-posse, bandopnames van besprekings en 10 jaar se telefoonoproepe wat kan bewys wat werklik in daardie wyk aangegaan het.

Ek is en bly steeds ’n getroue DA-ondersteuner en wens die party alle sterkte toe. Bela-Bela sal altyd na aan my hart wees. Hiermee ook my opregte dank aan al die inwoners wat my in die verlede ondersteun het. Intussen bly ek rustig en gelukkig in die Wes-Kaap en dank die Here elke dag vir Sy genade en voorreg om ’n paar jaar se vrede te beleef. (Brief verkort. — Red).

Related Articles

Back to top button