Desirée van der Walt, DA-LP, skryf:
Aan al die inwoners van Bela-Bela, Modimolle en Mookgophong: Ek skryf vandag met ’n swaar gemoed aan elkeen van u.
Die tyd het gekom om u te groet as die DA se kiesafdelingshoof vir hierdie omgewing.
Ek het die afgelope paar jaar werklik lief geword vir die inwoners van hierdie mooi deel van ons land.
Ek het die voorreg gehad om in die lief en leed van ons groter gemeenskap te deel.
Ons het saam geveg teen korrupte politici en amptenary en die samestelling van twee dorpe in een munisipaliteit (al het ons tweede gekom).
Ons het ook saamgewerk om deur talle lekker geleenthede verligting te bring vir die nood van ander, hetsy in die stryd teen kanker, hulp by ons kinderhuise, kerke, skole en om armes warmer te laat voel in die winterkoue.
’n Hoogtepunt was beslis toe ons saam-gestaan het en die eerste twee munisipaliteite, Modimolle-Mookgophong en Thabazimbi (ook in my kiesafdeling) in Limpopo geword het om in koalisie of deur samewerking teen die ANC te regeer — al was dit onder uiters moeilike omstandighede. Hiervoor bewonder ons ons burgemeesters en ons span.
Daar was ook baie swaar tye soos moorde en aanvalle op ons inwoners, en selfs op leerders in van ons skole. Inwoners wat hul huise en alles daarbinne in brande of vloede verloor het en die dae of weke of selfs permanent sonder water en elektrisiteit was, asook die talle padongelukke op die paaie tussen ons dorpe, is die dinge wat my keer op keer net weer laat besef het hoe belang-rik dit is om op my knieë te bly en dankbaar te wees. Ook om dankbaar te wees omdat ek die geleentheid gehad het om te kon dien in hierdie gemeenskap.
Die heel swaarste groet is aan die mense van Vingerkraal in Bela-Bela. Hier het raadslid Kobus van der Merwe en ek die pyn en lyding van ’n gemeenskap meegemaak toe 11 kinders in ’n veldbrand gesterf het en verskeie vandag nog met brandletsels moet saamleef. Een gesin het twee kinders in dié tragedie verloor.
Teenoor Kobus en sy vrou, Mathilda, wat self ongelooflike werk in hierdie gemeenskap gedoen het, en met die hulp van ander, kan ek net dankie sê. Dié soort menslikheid kan nooit ongesiens verbygaan nie.
Ek het vir ’n tyd lank ’n huis in Gholfpark in Mookgophong gehuur om die 7 000 km per maand op die pad te verminder. Koro Creek in Modimolle het daarna nog ’n tuiste geword — dankie Lorette en Anita. Nou is dit tyd om weer gereeld in my eie huis te slaap.
My nuwe kiesafdeling is my tuisdorp Tzaneen, Hoedspruit, Phalaborwa en Modjadjiskloof (Duiwelskloof).
In my hoedanigheid as die DA Limpopo vrouenetwerk se leier en ook in my werk as die DA se skadu-minister oor die staats-diens sal ek nog gereeld in elke gemeenskap kom kuier en so kontak behou met die talle vriende wat ek gemaak het.
Baie dankie aan elkeen vir u goedheid — die kerke wat vir ons dorpe en ons land bid, die sakekamers, AfriForum, ook die joernaliste wat ons stories gepubliseer het en die restaurante wat dikwels as kantoor moes dien waar ons soms ure gesit en werk het. Tot volgende keer, mooi loop!



