Sers. Hester van Zyl, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het gesê AO Ross Rossouw en AO Eugene Clarence van Modimolle het ’n wenk by ’n gemeenskapslid ontvang dat daar verskeie huishoudelike items in ’n veld naby Thaba Kwena in die Groot Nyl Zyn Oog-omgewing was.
Die polisie het danksy goeie speurwerk ’n verdagte wat met die gesteelde items verbind is, by ’n T-aansluiting op die R101 na Modi-molle ingewag, het Rossouw by navraag gesê.
’n Drie ton-trok met sinkplate, huishoudelike, asook elektroniese toerusting agterop is van die pad getrek en die verdagte is in hegtenis geneem.
Die items is ongeveer R43 000 werd, het Van Zyl gesê.
Verdere ondersoek het daarop gedui dat die goedere glo op Vrydag 18 Mei by ’n nabygeleë plaashuis in Buisfontein gesteel is. Dit was dieselfde items wat in die veld weggesteek was, het Van Zyl gesê. Die eienaar van die plaas was volgens Van Zyl in Pretoria toe die inbraak plaasgevind het.
Die verdagte sal binnekort in die Bela-Bela landdroshof verskyn op aanklag van die besit van gesteelde eiendom.
Van Zyl het gesê hierdie inhegtenisname sou nie moontlik gewees het sonder die wakker optrede van die lid van die gemeenskap nie.



