Ruben Miles, JP Johannesse, Mona Oosthuizen, Christopher Joubert (Oosthuizen se seun) en Louisa Ricco was op 28 en 29 Mei in die beskuldigde bank terwyl Johan du Toit, wat vroeër saam met hul aangekla is, vir die staat getuig het. Die saak is deur landdros Pieter Manthatha aangehoor.

Die hof het gehoor die nadoodse ondersoek het getoon dat die 51-jarige Venter op die toneel weens versmoring gesterf het. Sy arms en bene was vasgebind en ’n broekspyp was om sy nek vasgemaak. Die mediese dokter wat die ondersoek gedoen het, het getuig dat daar vermoedelik kleefband om sy mond en oor sy neus gebind was wat die versmoring veroorsaak het. Daar was ook tekens dat hy ’n harde hou teen die kop gekry het.
Sers. Abram Ngobeni van die Rooiberg-polisie het getuig hy het op 14 November 2015 om 01:00 na die toneel gegaan waar hy deur Oosthuizen, wat in ’n verhouding met Venter was, by die huis begroet is. Ngobeni het getuig Oosthuizen het gesê dat sy en Venter geslaap het toe hulle aangeval is. Venter se liggaam was in ’n mat toegerol. Die kamer was deurmekaar met klere wat rondgegooi is en die bed was geskuif. Die kluis is uit die muur verwyder.
Du Toit was daarna in die getuiebank om sy weergawe van die gebeure te vertel. Volgens hom het hy en Joubert ’n jaar vantevore op Venter se plaas gewerk. Hy het gesê Ricco wou ’n kragopwekker wat met magnete werk koop en soortgelykes bou. Hulle het na beleggers gesoek en Venter het glo vantevore in so ’n projek belê.
Hy het glo aan iemand gesê dat hy enige tyd tussen R400 000 en R500 000 in sy kluis het. Venter het egter nie belanggestel in ’n transaksie nie en volgens Du Toit het Ricco voorgestel dat hulle die geld by hom steel.
Du Toit en Joubert het glo ingestem. Hulle het Miles en Johannesse genader om hulle te help en later ook vir Oosthuizen.
Du Toit het getuig hulle het ’n komplot gesmee dat Oosthuizen Venter die aand van die plaas af sou kry en dat Miles en Johannesse dan sou inbreek en die kluis steel. Volgens Du Toit het hy, Ricco en Oosthuizen vir Miles en Johannesse naby Venter se plaashek afgelaai. Hulle het ooreengekom dat ’n baksteen wat op ’n nabygeleë brug regop geplaas is, sal aandui dat die twee mans weer uit die plaas is ná die diefstal en opgelaai moet word.
Ná 12:00 die nag was daar nog geen teken van die twee mans nie en hul brandstof het min geraak, het Du Toit getuig. Hulle was op pad terug Bela-Bela toe, toe hulle ’n telefoonoproep ontvang het dat Miles en Johannesse opgelaai moet word. “Ek het gesê dat ons petrol te min was en ons moet dorp toe gaan,” het hy gesê.
Hulle het glo by Ricco se huis gaan slaap en die volgende oggend gehoor dat Venter in ’n plaasaanval gesterf het. Hulle het, volgens Du Toit, besef dat die polisie na hulle gaan kom soek. Hulle is kort daarna in hegtenis geneem. Du Toit het gesê dat hul plan slegs was om die geld te steel, en nie om Venter te vermoor nie. Hy het gesê dat Miles en Johannesse op hul eie opgetree het.
Die saak hervat op Woensdag 13 Junie.



