Bielie van ’n luislang sit in reservaat se grensdraad vas
Studente van die Sondela-natuurreservaat buite Bela-Bela het op Dinsdag 29 Mei eerstehands ervaar hoe dinge in die veld werk toe ’n 4,5 m luislangwyfie langs een van die reservaat se grensdrade aangetref is.
Jan-Louis Jacobs, opleidingsbestuurder by Sondela, het aan Die Pos gesê dié bielie van ’n slang het aanvanklik in die grensdraad vasgesit.
Jacobs en die ander het die slang uit sy penarie gered en weer op die reservaat vrygelaat. Die slang se lengte was vir die nuuskieriges baie indrukwekkend, het hy gesê.
Jacobs het op Donderdag 31 Mei nog ’n luislang, aansienlik kleiner as die een van Dinsdag, onder ’n voertuig gered. Dié slang was besig om homself in die voertuig se skokbrekers tuis te maak.
Jacobs het gesê luislange is nie geneig om mense te steur nie en met die winter wat nader kruip soek hulle tans na ’n warmer heenkome. Hulle word dikwels in erdvarkgate aangetref, het hy gesê.
Sy raad aan besoekers en inwoners in die omgewing is om ’n professionele slangvanger te skakel indien hierdie reptiele op hul eiendom opgemerk word.



