Sangpaar begin projek om Warmbad-dienssentrum te help
Omgee is nie net ’n woord vir ’n sangpaar van Bela-Bela nie.
Kosie en Marlene Kotze het ná afloop van hul vorige optrede by die Warmbad-dienssentrum in April met die Golden Dream-projek begin om die dienssentrum te help om geld in te samel sodat die sentrum sy goeie werk kan voortsit.
Golden Dreams bied ’n platform aan plaaslike talent om hulself bekend te stel, asook waar mense tuisgebak kan verkoop. Die sangpaar wil die gemeenskap met hierdie projek betrokke kry om aan senior burgers ’n uitkoms te bied, asook om die gemeenskap byeen te bring.
Die Golden Dreams-projek sal ’n maandelikse instelling word en elke maand ’n ander tema hê.
Die projek begin op Saterdag 9 Junie by die dienssentrum en die tema is Vergete se dae. Kosie en Marlene sal as hoofkunstenaars optree, en Rocco Rebel, ’n 74-jarige met ’n passie vir musiek, as gaskunstenaar.
Kaartjies kos R20 per persoon en is by die dienssentrum beskikbaar of by Kosie by Mmamodise Fitment Centre in die dorp of bel vir Marlene by tel. 066 118 4586 vir besprekings.



