Begraafplaas se toestand ontstel talle inwoners
Gras wat plek-plek kophoogte staan, afwesige werkers, slange en die algemene verwaarloosde toestand van die begraafplaas in Modimolle is van die klagtes wat Die Pos die afgelope paar weke ontvang het.
Tydens ’n besoek aan die begraafplaas op Maandag 4 Junie was die breë paaie se gras gesny, maar die gras tussen die grafte het ruig gestaan. Die vensters van die geboue op die terrein was stukkend en die ingangspilare gebreek en het op die grond gelê.
Petro Hattingh van Doves-begrafnisondernemers op die dorp het aan Die Pos gesê die families is baie omgekrap oor die swak toestand waarin die begraafplaas is. “Mense sê hulle voel onveilig daar, self tydens begrafnisse wanneer ons ’n groep mense is,” het sy gesê.
Haar werkers het ’n nare ondervinding gehad toe een van hulle amper op ’n slang getrap het toe hulle skoongemaak het. “Die werkers op die terrein het gesê hulle sien gereeld slange. “Sê nou iemand trap op een tydens ’n begrafnis? Dit is heeltemal onaanvaarbaar.”
Hattingh het voorts gesê die munisipale werkers is baie keer ná 12:00 nie meer by die begraafplaas nie. “Hulle vereis geld om grafte toe te gooi, en daarom doen ons dit eerder self,” het sy gesê.
Nog inwoners het foto’s gestuur van die verwaarlosing van die terrein.
Marlene van Staden, burgemeester, het by navraag aan Die Pos gesê die vorige bestuurder van sosiale dienste, Herman Sebata, se kontrak met die munisipaliteit het einde Maart verstryk. “Die raad het eers met hul laaste vergadering vir Zakes Namate in sy plek aangestel, wat beteken dat daar twee maande lank niemand aan die stuur van sake was nie. Die afdelingsbestuurders het in dié tyd nie hul kant gebring nie,” het sy gesê.
“Dit is die rede hoekom die begraafplaas, asook die stortingsterrein op die dorp, in so ’n toestand is. Die waarnemende munisipale bestuurder, Mapule Mokoko, het gevra dat Namate ’n volledige verslag oor sy departement aan haar verskaf — hy sal dié probleme daarby voeg,” het sy gesê.



