Pieter Raath, Bela-Bela, skryf:
Ek verwys na die brief van Kobus van der Merwe in Die Pos van Vrydag 1 Junie.
Ek het vir 20 jaar saam met Van der Merwe in Bela-Bela gewerk — eers in die sakeforum en sakekamer en later as voorsitter van die belastingbetalersforum (BBTF).
Deur die jare het hy altyd die leiding in die gemeenskap geneem teen die wanbestuur en korrupsie in die munisipaliteit. Hy het sy hele lewe gewy aan die welvaart van die gemeenskap. Sonder sy getroue bystand sou die BBTF weinig vermag het en sonder sy voortgesette stryd in die munisipale raad sou Bela-Bela in ’n baie swakker toestand gewees het as sommige van ons buurdorpe.
Sy daadwerklike bystand en goeie verhoudinge in Vingerkraal en Koppewaai was ongetwyfeld een van die grootste redes waarom die DA die laaste munisipale verkiesing in Wyk 9 gewen het.
Dit was dus met groot ontsteltenis dat ek sy brief gelees het waarin dit duidelik blyk dat die DA geen waarde heg aan sy bydrae deur die jare nie. Ek verneem selfs van verdagmakery en beskuldigings in sosiale media.
Dié soort optrede herinner my aan Mmusi Maimane se ondeurdagte kritiek na aanleiding van die Ashwin Willemse-voorval. As dit die manier is waarop die DA die tussenverkiesing hier in Bela-Bela gaan benader, sal hulle nie net my steun nie, maar ook dié van talle regdenkende mense verloor.



