CrimeNews

Inbrekers buit televisies en kontant by Modimolle-sakeonderneming

Diewe het groot skade by ’n sakeonderneming in die hoofstraat van Modimolle aangerig nadat hulle die afgelope naweek ingebreek en televisies en kontant gesteel het.

Die eienaars van Ster Radio het Maandagoggend 4 Junie ’n onaangename verrassing gekry toe hulle die deure vroegoggend oopgesluit en besef het dat inbrekers ’n gat in die dak gesny en hulle besteel het. Die onderneming doen onder andere herstelwerk aan televisies.

Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, is die dak reg bokant die kluis oopgebreek. “Die kluis is omgegooi en oopgesny en al die kontant is gesteel. Die diewe het al die televisies wat in ’n werkende toestand was, gebuit, asook horlosies en gereedskap,” het hy gesê.

Eben Erasmus, eienaar, het gesê hul skade word op R250 000 geraam.

“Dit maak ’n mens baie bitter. ’n Mens bou aan iets en dan word dit afgebreek. Hoe kan ’n mens só sake doen?”

Volgens Findlay is dit nie bekend hoeveel mense by die inbraak betrokke was nie en duur die ondersoek voort.

Verskeie ondernemings in Nelson Mandelarylaan het al vantevore deurgeloop nadat inbrekers toegang deur die dak verkry het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button