Waterberg-sakekamer wil alles in stryd werp om ligte te laat aanbly
Hoewel talle inwoners hul hoop daarop gevestig het dat die provinsiale regering se aankondiging dat die munisipaliteit onder administrasie geplaas word beurtkrag sal verhoed, het die Waterberg-sakekamer besluit om voort te gaan met hul regsaksie.
Die kragtoevoer na dorpe in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit sal oor 21 dae drasties gesny word, tensy kragdadige in-gryping plaasvind.
Eskom se vroeëre kennisgewing in Die Pos het aangedui dat die kragtoevoer vanaf Vrydag 29 Junie onderbreek sal word weens sowat R250 miljoen se uitstaande skuld.
Hoewel talle inwoners hul hoop daarop gevestig het dat die provinsiale regering se aankondiging dat die munisipaliteit onder administrasie geplaas word beurtkrag sal verhoed, het die Waterberg-sakekamer besluit om voort te gaan met hul regsaksie.
“Ons kan nie hoop op ’n towerstaffie nie. Ons kan nie terugsit op ’n belofte van die provinsiale uitvoerende komitee dat hulle sal ingryp nie. Ons tyd is besig om min te raak,” het Wiets Botes, voorsitter van die sakekamer, aan Die Pos gesê.
Marlene van Staden, burgemeester, het bevestig dat daar nog nie sprake is van ingryping met die Eskom-kwessie nie. “Die provinsie sal nie die munisipaliteit se skuldeisers oorneem nie,” het sy gesê.
Volgens die Eskom-kennisgewing sal die elektrisiteit tydens die eerste week van 06:00 tot 09:00 en van 17:00 tot 20:30 afgeskakel word. Oor naweke sal dit van 08:30 tot 12:00 en van 15:00 tot 19:00 af wees. Tydens die tweede week sal die elektrisiteit elke dag van 06:00 tot 20:00 af wees.
Die sakekamer wil ’n aansoek teen die provinsiale LUR vir tesourie en die nasionale tesourie indien om die regering te verplig om by die bestuur van die munisipaliteit in te gryp. Hulle beplan om ’n beswaar by Eskom in te dien met ’n ekonomiese impakstudie deur die bekende ekonoom Mike Schussler.
Botes het bevestig dat hulle nou eers sowat R200 000 ingesamel het van die beoogde R500 000 wat die regskoste sal beloop. Hy moedig inwoners aan om by te dra. “Onderbreking van ons kragtoevoer sal ons almal duur te staan kom, al word jy nie direk geraak nie. Dra by tot ons regskostes en help ons om die ligte aan te hou,” het hy gesê.
Vir meer inligting of om by te dra, bel vir Wiets Botes by tel. 083 501 0079, Jan Koelewyn by tel. 082 873 7678 of Gerhardt Breytenbach by tel. 083 325 7428.



