Inwoners hoop dat administrasie deur die provinsiale regering lig in die donker munisipale tonnel vir Modimolle, Mookgophong en Vaalwater sal bring.
Die provinsiale uitvoerende komitee het hul voorneme om die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit onder administrasie (sakeredding) te plaas op Donderdag 31 Mei aangekondig. Die besluit is wyd verwelkom.
Die munisipaliteit se “sondes” sluit onder meer in dat Eskom dreig om die kragtoevoer op Vrydag 29 Junie met tye te sny omdat die rekening R250 miljoen agterstallig is, asook ’n bedrag van meer as R15 miljoen wat aan die waterverskaffer Magalies Water verskuldig is.
Personeel word ook herhaaldelik laat betaal weens kontantvloeiprobleme.
Ander klagtes sluit in diensleweringsprobleme soos die instandhouding van paaie en die riool- en elektrisiteitsnetwerk, asook powere finansiële bestuur met talle verslae wat nie betyds ingedien word nie of van swak gehalte is.
Wat die praktiese implikasie van administrasie behels, was teen druktyd nog nie heeltemal duidelik nie.
Volgens Marlene van Staden, burgemeester, het sy op Dins-dag 5 Junie nog op skriftelike bevestiging van die LUR van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) ge-wag wat lig hierop sou werp.
Volgens Artikel 139 van die Grondwet het die provinsie drie keuses wanneer ’n munisi-paliteit onder administrasie geplaas word.
Artikel 139 (a) bepaal dat die munisipale raad voorgeskryf word watter stappe gedoen moet word om hul verpligtinge na te kom.
Artikel 139(b) bepaal dat die provinsie verantwoordelikheid aanvaar vir daardie munisipaliteit in die mate wat nodig is om die nasionale standaarde te handhaaf om aan dienslewering te voldoen en om te voorkom voorkom dat die munisipale raad onredelike stappe doen wat nadelig is vir die belange van ’n ander munisipaliteit of die provinsie in geheel en om ekonomiese eenheid te handhaaf. Artikel 139 (c) gee die provinsie die mag om die munisipale raad te ontbind en ’n administrateur aan te stel totdat ’n nuwe raad verkies is.
Van Staden het gesê hulle verwag dat artikel 139(b) op Modimolle-Mookgophong van toepassing sal wees. Sy het gesê die munisipale raad sal nie ontbind word nie, maar die proses sal wel die amptenare beïnvloed.
“Ons het reeds ’n span van die provinsiale tesourie wat die administrasie help om die begroting te behartig en die tekorte te hanteer. Ons waarnemende munisipale bestuurder, Mapule Mokoko, sal vir eers aanbly as die administrateur,” het sy gesê.
Van Staden het die ingryping verwelkom. “Ná die verkiesing in 2016 het Modimolle en Mookgophong saamgesmelt. Die nuwe raad het ’n munisipaliteit met ernstige sistemiese uitdagings geërf na jare van wanadministrasie en finansiële wanbestuur,” het sy in ’n mediaverklaring gesê.
Sy het volgens Van Staden gesê die raad se finansiële oorsig-funksie is sedert die verkiesing ernstig geknou deur die onbekwaamheid of weiering van senior amptenare om aan die burgemeester, komitees en raad te rapporteer.
“Ek is vol vertroue dat ons met die hulp van die administrateur en die ondersteuningspan finansiële stabiliteit sal bereik en beter dienslewering kan verskaf, het sy gesê.
Rufus Mahoro, die ANC-hoofsweep in die raad, het gesê administrasie lui ’n nuwe begin vir die munisipaliteit in. “Dinge het uitmekaar geval onder die DA en EFF se bestuur. Hulle het nie politieke leierskap verskaf nie en dit het daartoe gelei dat ons bankrot is. Die besluit om ons onder administrasie te plaas, sal die katgevegte tydens raadsvergaderings beëindig en verseker dat beter dienslewering verskaf word,” het hy gesê.



