NewsSchools

Jong onderwyser as vakadviseur aangestel

Danie Du Toit, een van die onderwysers by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, groet die Hansies om die pos as vakadviseur vir chemie en fisika in die Waterbergstreek te vul.

Du Toit, wat self ’n oud-Hansie is, het in 2013 by die skool as fisiese wetenskaponderwyser begin werk. Hy het die geleentheid gekry om bevorder te word tot vakadviseur en aansoek gedoen om die vakante pos.

Du Toit was op sy dag ’n kranige student en het in 2012 ’n BEd-graad in wiskunde en wetenskap aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. Hy het ook ’n BEd Honneurs in onderwysbestuur en -reg aan die Universiteit van Suid-Afrika met drie onderskeidings verwerf.

Hy het in 2012 ’n Golden Key-akademiese toekenning ontvang. “Ek het hierdie toekenning ontvang terwyl ek aan die UP studeer het. Hierdie toekenning erken studente in die top 10 van hul kwalifikasie,” het hy beskeie gesê. Hy was ook gedurende sy studies vir drie jaar ’n studenteverteenwoordiger by UP.

Hy is in 2017 as nasiener vir fisiese wetenskap in Limpopo aangestel.

Du Toit het aan Die Pos gesê hy beskou die bevordering as ’n voorreg en is opgewonde om die taak aan te pak. Die streek strek van Settlers tot Palala en hy sal al die skole in die gebied bedien. As vakadviseur sal hy die vak in die skole moniteer, beleide implementeer en hulp verleen aan onderwysers in die vakgebied.

Du Toit hou van sport en het in 2014 en 2017 die 94.7-fietswedren voltooi.

Spikkels de Wet, waarnemende hoof van die Hansies, het gesê die skool wens hom alle voorspoed toe in sy nuwe pos.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button