Anette Nel, wat vir baie jare rekeningkunde en ekonomiese bestuurswetenskap (EBW) by dié skool aangebied het, is deur die departement van onderwys in Limpopo as vakadviseur in EBW aangestel.
Sy was maar ’n skrale 21 toe sy haar onderwysloopbaan by dié skool begin het. Sy onthou dat sy in die ou bedeling op ’n stadium tik en “bedryfsekonomie as vakke aangebied het.
Dié vakke word deesdae nie meer aangebied nie.
Nel het aan Die Pos gesê Hoërskool Warmbad was haar “lewe”. Die tyd in 2017 toe sy as hoof waargeneem het, was ’n hoogtepunt.
Sy dink ook met groot heimwee terug aan 2011 toe die Warries, ná ’n lang afwesigheid van die gewilde Bosveld-interhoër, die gasheerskool van dié geleentheid was. Nel was die hooforganiseerder en het haar uitstekend van haar taak gekwyt.
Daar is op Maandagaand 18 Junie amptelik van haar afskeid geneem.
Sy het gesê sy sien baie uit na die uitdaging wat vir haar voorlê. Sy glo dat sy na al die jare baie kennis het om aan ander onderwysers oor te dra, maar sy gaan met haar nuwe werksure beslis die skoolvakansies mis.
Nel was ook ’n uitstekende netbalafrigter en verskeie spanne het onder haar leiding die kroon as provinsiale kampioene opgeraap.
Sy glo daar is baie geleenthede in onderwys en haar raad aan jong onder-wysers is om dit met albei hande aan te gryp. “Moenie net tyd aan akademie wy nie — sit meer in en doen ekstra moeite. Niemand kan daardie ervarings van jou wegneem nie.”
Haar onderwysloopbaan was vir haar ’n “ongelooflike ervaring”. Sy het gesê sy sal niks oor wil doen of anders wou hê nie.



