Die stryd om Eskom se hande van die ligskakelaar in Modimolle en Mookgophong af te hou, is volstoom aan die gang.
Die Waterberg-sakekamer het op Donderdag 14 Junie ’n semidringende hofaansoek aan verskeie respondente gestuur in ’n poging om te keer dat Eskom vanaf Vrydag 29 Junie beurtkrag toepas oor agterstallige skuld van meer as R250 miljoen.
Eskom staan egter vas by sy besluit en het vandeesweek ’n finale kennisgewing gestuur dat hulle op Vrydag 29 Junie begin met die drastiese sny van kragtoevoer in Modimolle, Mookgophong en Vaalwater.
Dit behels dat die kragtoever die eerste week soggens van 06:00 tot 09:00 af sal wees en saans van 17:00 tot 20:30. Vir die tweede week en daarna word ’n nagmerrieskedule beoog wanneer die krag reg deur die dag van 06:00 tot 20:00 af sal wees.

Die sakekamer het sy aansoek, sowel as ’n eedsverklaring wat hul saak uiteensit, uitgereik aan die LUR van die provinsiale tesourie, LUR van die provinsiale departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA), die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, die premier van Limpopo, die ministers van CoGHSTA en finansies, Eskom en Magalies Water uit die hoë hof van Polokwane.
Volgens Wiets Botes, voorsitter van die Waterberg-sakekamer, is die sakekamer van mening dat die huidige maatreëls, wat ingrype van die provinsie af insluit met die aanstelling van ’n munisipale bestuurder en finansiële adviseur, nie genoeg nie.
Gerhardt Breytenbach, ’n Modimolle-prokureur en lid van die sakekamer, het gesê die aansoek bestaan uit drie dele naamlik ’n versoek vir ’n verklarende bevel dat die munisipaliteit in ’n geldelike krisis verkeer, dat die provinsie kragtens artikel 139(5) van die Grondwet moet ingryp en indien die provinsie nie ingryp nie, die nasionale tesourie moet ingryp.
Kragtens artikel 139(5) oor verpligte ingrype word die munisipale raad se magte beperk en indien die raad nie met die uiteindelike herstelplan saamstem of daaraan uitvoering gee nie, kan dit daartoe lei dat die raad ontbind en ’n nuwe een verkies word.
Die sakekamer se eedsverklaring, wat inligting uit die ouditeur-generaal (OG) se verslae oor die munisipaliteit se geldsake verskaf, skets ’n beroerde prentjie van nimmereindigende skuld wat jaarliks groei. Hieruit wil dit voorkom asof die kruks van die probleem swak finansiële bestuur en powere invordering van uitstaande munisipale skuld, veral in Mookgophong, is.
Die verklaring lui onder meer dat die Mookgophong-munisipaliteit vir die jaar wat op 30 Junie 2016 geëindig het, ’n bedryfstekort van ongeveer R29 miljoen gehad het. Sy laste het daarna sy bates van sowat R75 miljoen oorskry. Die OG het in sy verslae vir 2015/2016 en vir 2014/2015 aanbeveel dat ingryping nodig is. Volgens die sakekamer is dié probleme ná Augustus 2016 na die nuwe, saamgesmelte Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit oorgedra.
Die Modimolle-munisipaliteit het ook ’n gekwalifiseerde ouditmening van die OG ontvang vir hul boekjaar wat op 30 Junie 2015 geëindig het, het die verslag gelui. Onregmatige uitgawes vir die tydperk het sowat R49 miljoen beloop met R27 miljoen van die vorige jaar wat nog nie opgelos is nie. Die OG-verslag het aangedui dat die munisipaliteit tekorte gehad het vir die 2013/2014 én 2014/2015 boekjare omdat die uitgawes die inkomste oorskry het. Dit het tot gevolg gehad dat die munisipaliteit nie sy krediteure kon betaal nie. ’n Kommerwekkende punt wat die OG-verslag uitlig, is dat hulle geen bewyse kon kry dat maandelikse rekonsiliasies vir betaalbare rekeninge gedoen is nie.
Vir die boekjaar wat op 30 Junie 2016 eindig, het Modimolle ’n gekwalifiseerde ouditmening ontvang. Die sakekamer se verslag het briewe van die OG aangeheg wat aandui dat die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se finansiële verslae ses maande laat ingedien is, met van die inligting wat onvolledig was. Ingevolge wetgewing moet dit binne drie maande ná ’n jaareinde ingedien word.
Volgens Breytenbach is die voorlopige hofdatum Dinsdag 10 Julie. “Ons wag tans vir die respondente om aan te dui of hulle die aansoek gaan teenstaan. Hulle is versoek om binne vyf dae aan te dui of hulle die aansoek gaan teenstaan. Indien enigeen van hulle die aansoek sou teenstaan, moet hulle opponerende eedsverklarings voor of op Donderdag 26 Julie indien,” het hy gesê. “Ons regspan probeer om met Eskom se prokureurs te vergader om nog verdere aansoeke te voorkom.”



