Die Nylstroom-rugbyklub het op Vrydag 6 Julie in Modimolle teen die Vaalwater-rugbyklub tydens ’n spanningsvolle Waterberg-ligawedstryd uitgedraf. Nylstroom was egter die sterker span en het Vaalwater met 40-5 geklop. Tiaan Bestbier, Nylstroom-speler, is as die speler van die wedstryd aangewys. Sy spanmaat, Petrus van Staden, is as die beste voorspeler aangewys. Die span speel op Vrydag 20 Julie teen die Mogol-rugbyklub in Lephalale. Die Nylstroom-span het die afgelope tyd twee van sy topspelers, Werner Smit en Jeandré Nieuwenhuis gegroet. Op die foto is Bestbier en Van Staden ná die wedstryd teen Vaalwater.
Die wenners van Kokanje-rolbalklub in Modimolle se maandelikse borgdag was Armando Lopes, Elriena Kriel en Willem Roets. By hulle is die president van die klub, Jean du Plessis. Altesame 30 spelers met drie per span het op Woensdag 27 Junie kragte gemeet op die aftreeoord se rolbalbane. ’n Plaaslike onderneming borg elke maand dié kompetisie.