Die verdagte wat in hegtenis geneem is in verband met die brand wat die Kingfisher Nest-gastehuis se restaurant op die Thabazimbi-pad buite Bela-Bela op Maandag 4 Junie verwoes het, is uit op borgtog.
Frank Mojapelo, ’n voormalige werknemer van die gastehuis, is tydens die laaste verskyning in Junie op borgtog van R1 500 vrygelaat. Mojapelo is aangekla van brandstigting en diefstal nadat die polisie hom in Roedtan met die gesteelde rekenaartoerusting, wat aan die gastehuis behoort het, betrap het.
Die Pos het vroeër berig die brand het kort voor 02:00 by die grasdakrestaurant uitgebreek waarna talle lede van die gemeenskap, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die Bela-Bela-brandweer bystand verleen het. Die gastehuis was na wat verneem word in die mark ten tyde van die brand.
Die brandweerwa het terwyl die brand onder beheer gebring is, in ’n sementgat vasgeval en is beskadig. Geen ander eiendom is tydens die brand beskadig nie.
Mojapelo se saak is na Woensdag 25 Julie vir verdere ondersoek uitgestel.
* Hans Phale, ’n Koppewaai-inwoner, is reeds uit op borgtog nadat hy verbind is met die brand wat Salome Mahladisha van Koppewaai se sinkhuis op Sondag 3 Junie vernietig het.
Die hof het hom op Donderdag 14 Junie borgtog van R1 000 toegestaan. Hy verskyn tans op aanklag van brandstigting. Die hof het sy saak na Woensdag 18 Julie vir verdere ondersoek uitgestel.
Lede van die Bela-Bela-munisipaliteit het Mahladisha belowe om haar huis met nuwe boumateriaal op te knap en kos te voosien, aangesien sy al haar besittings in die brand verloor het.



