Reisigers gestrand ná wa breek
Die wa se as het vermoedelik van die bus losgeruk. Dit het bo-oor ’n wildswering geskiet en enkele meter van waar ’n inwoner in sy kamer geslaap het, te lande gekom.
’n Passasiersbus het sy swaargelaaide wa in die vroeë oggendure van Vrydag 6 Julie op die R101 tussen Modimolle en Bela-Bela verloor.
Die wa se as het vermoedelik net ná 01:00 van die bus losgeruk. Dit het bo-oor ’n wildswering geskiet en enkele meter van waar Freddy Nkoame in sy kamer geslaap het, te lande gekom. Die wa, wat volgens omstanders nie geskik is vir busse nie en vir vragmotors bedoel was, was met die passasiers se besittings en ’n vrag uie vol gelaai.
Die passasiers, wat vroue met jong kinders insluit, het Vrydagoggend om 09:00 moedeloos langs die bus gewag. Hul twee dae lange reis na Malawi is met etlike ure verleng en van die mans het probeer om die skade aan hul bagasie te bepaal. Een van hulle het ’n aantal bokse appels saam teruggeneem Malawi toe en langs die verwronge wa gesit en kyk of hy van die vrugte kon red. Gebuigde fietse en oopgeskeurde sakke uie het die skouer van die pad besaai.
Die wit Mercedes-bus het geen ooglopende skade opgedoen nie.
Nkoame het gesê hy het kort ná 01:00 wakker geskrik van ’n groot slag en het kort daarna stemme gehoor.
“Ek was te bang om uit te gaan en het die eienaar van die plaas gebel,” het hy gesê. Blikkies Naudé het onmiddellik vanaf Centurion gery om te kyk wat aangaan. “Met deesdae se plaasaanvalle is ’n mens baie bekommerd. Freddy het baie groot geskrik. Nadat ons besef het dit was ’n ongeluk, was ek bekommerd dat ons wild by die beskadigde heining sou uitkom en voor die motors beland,” het hy gesê.
Die drade is gou herstel en die passasiers en busbestuurder het op die aankoms van die eienaar van die voertuig uit Gauteng gewag.
AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het gesê ’n ongeluks-verslag is nie in Modimolle geopen nie. “Indien daar geen beserings was nie, kan die eienaar die ongeluk by sy naaste polisiestasie aanmeld.”



