Local sportSport

Fietsryer van Vaalwater wen groot kampioenskap

Carla het haar liefde vir fietsry by haar broer Ruan gekry.

Carla Jansen van Vuuren (10), ’n leerder aan Waterberg Academy in Vaalwater, het op Saterdag 23 Junie haar Limpopokleure verwerf en met ’n eerste plek die wisseltrofee tydens die Limpopo-kampioenskap vir Mountain Biking Olympic Cross-Country (MTB XCO) ontvang.

Carla het ook halferekleure by die skool vir dié prestasie ontvang. Die kampioenskap is by Summerplace Farm buite Vaalwater aangebied.

Om die kampioenskap te wen, moes sy vroeër vanjaar aan al vier afdelings van die provinsiale kompetisie, Limpopo MTB XCO, deelneem. Die kompetisies het op Saterdag 27 Januarie by die Pietersburgmeer, op Saterdag 28 April by Stanford College Haenertsberg in Magoebaskloof, op Saterdag 19 Mei by Tzaneen Country Lodge en op Saterdag 9 Junie in Louis Trichard plaasgevind. Carla het ook vanjaar aan die Suid-Afrikaanse XCO begin deelneem, maar kon nie aan al die byeenkomste deelneem nie. Sy het ten spyte daarvan op Saterdag 21 Julie ’n derde plek in die nasionale kompetisie behaal.

Anelize Jansen van Vuuren, Carla se ma, het aan Die Pos gesê as gesin lê hulle baie kilometers af en maak ook baie vriende. Die kinders maak oor die hele land maats, het sy gesê.

Carla se liefde vir fietsry het by haar broer Ruan (14) begin. Sy het verlede jaar begin ry. Sy het ook haar broer se fiets geërf, want “die kinders raak so gou te groot vir die fietse”. Sy oefen ongeveer drie maal per week vir twee uur lank by die Waterberg Mountain Biking-klub in Vaalwater.

Anelize het vertel dat bergfietsry ’n mens se maagspiere sterk hou en dat al twee kinders al ’n arm gebreek het.

“Ek wil net fietsry,” het Carla aan Die Pos gesê.

Die Limpopo MTB XCO-kompetisies bestaan uit ongeveer vier rondtes van 15 km per afdeling. Elke afdeling het ook verskeie hindernisse.

Die skolereeks begin op Saterdag 28 Julie by Hoërskool Ellisras.

Related Articles

Back to top button