
Henk Kruger, via e-pos, skryf:
’n Mens het so 60-70 jaar gelede in die winter nogal dikwels gehoor dat die een of daardie een in die bed is met “bromkatjies”.
As kind was dit vir my ’n snaakse naam vir ’n siekte. En nou was ek self vir ’n paar dae in die bed daarmee en kon ek ’n bietjie dink oor die siekte se vreemde naam.
Dit is ’n mooi voorbeeld van volksetimologie. (Etimologie het te doen met die oorsprong van woorde). In hierdie geval gee die volk die oorsprong aan die woord.
In ons ouma- en oupagrootjies se tyd het baie van die dokters nog hul opleiding in Engels ontvang en so het hulle ook die siektes se name in Engels geken.
Lugwegontsteking (brongitis) word in Engels foneties as bronkaaites uitgespreek. Vir ons voorouers was dit ’n vreemde woord waarvan hulle gou sin moes maak. Met ’n bietjie verbeelding kan bronkaaites soos bromkatjies klink en dit kon hulle onthou.
’n Mens se lugweë maak nogal sulke grrr-grr-bromgeluide van die infeksie. Maar vir vandag se slim kinders klink dit darem steeds baie snaaks.



