Lifestyle

Toyota Rush g’n baba Fortuner

Al die Toyota-waardes waarna kopers soek en wat Toyota se sukses oor generasies onderhou het, is perfek in die Rush vervat.

Daar is opskrifte wat die nuwe Toyota Rush as ’n baba Fortuner beskryf — net wat kopers aan die goedkoper kant van die nutsvoertuigmark nodig het.

Ek wil nou nie die spreekwoordelike pretbederwer wees nie, maar ’n baba Fortuner is dit nie, ’n Avanza Delux is dalk eerder ’n beter beskrywing.

Met hierdie kruis-Daihatsu, het Toyota die aspekte soos betroubaarheid en duursaamheid, wat nog altyd hul sukses verseker het, net ’n tikkie luukser en meer modern gemaak.

Die Rush vertoon mooi en die ontwerp van die aantreklike 17 duim allooivellings komplementeer die bekende Toyota-lyne. Die motor lyk laer as die 220 mm grondvryhoogte en hoewel hierdie eintlik ’n nuwe Terios is, het die motor heelwat gegroei sedert ons mark die laaste Terios gesien het.

Hierdie is eintlik ’n sewesitplekmotor, maar Toyota het besluit om die agterste ry sitplekkies weg te laat. Toyota wil duidelik die Rush as ’n nutsvoertuig bemark en met die agterste sitplekkies sou dit regtig soos ’n luukser Avanza gelyk het. Toyota kon meer moeite gedoen het sodat die bagasieruim nie lyk soos ’n sewe sitplek sonder sewe sitplekke nie, maar aan die positiewe kant is daar nou ’n allemintige 609 liter se bagasieruim — en dít met die agtersitplek in plek.

Die kajuit is met al die nuwe en nodige tegnologie en gerieflikheidsfunksies toegerus waaronder navigasie, Bluetooth, stuurwielkontroles en sleutelvrye toegang. Harde plastiek is egter volop en veral die beige plastiek aan weerskante van die sentrale konsole, wat veronderstel is om soos leer te lyk, is glad nie lekker om aan te vat nie. Ek het ’n broertjie dood aan die neiging van motorvervaardigers om plastiek soos iets anders te laat probeer lyk: plastiekhout, plas-tiekleer, plastiekaluminium en plastiekchroom is almal gunstelinge onder veral Japannese vervaardigers.

Toyota is nie groot op die hedendaagse neiging om klein turbodiesels in nutsvoertuie te sit nie, maar die 1.5 petrol uit die Avanza sal ’n kernoorlog oorleef. Toyota het weer betroubaarheid en lang diens bo moderne tegnologie verkies en hoewel die 77 kW maar bitter min is, sal die Rush sy mededingers ver oorleef. Slegs 136 Nm word teen ’n baie hoë 4 200 rpm gemaak wat te min sal wees vir baie nutsgebruikers. Die 6.6 liter per 100 km brandstofverbruik wat Toyota voorspel, klink ’n bietjie ambisieus vir ’n motor wat teen sulke hoë rewolusies sy werk sal moet doen.

Al die Toyota-waardes waarna kopers soek en wat Toyota se sukses oor generasies onderhou het, is perfek in die Rush vervat. ’n Robuuste ryding wat jare se getroue diens beloof en betroubaarheid wat nog hope mededingende modelle skrootwerf toe sal sleep, is wat die Rush ook ’n sukses sal maak. R300 000 is deesdae nie veel vir ’n motor nie en dan is daar ook ’n diensplan wat ses dienste behoort te dek.

Kopers wat die langpadvermoë en sleepkrag van ’n Fortuner of die styl en afwerking van ’n RAV4 verlang sal wel opmerk dat hierdie nie ’n baba Fortuner is nie.

* Paul Smith is ’n motorliefhebber, gesinsman en eienaar van die Spur op Bela-Bela. Hy is verantwoordelik vir Die Pos se maandelikse motorbylae.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button