Dié bal is op Saterdag 28 Julie aangebied as fondsinsameling vir die kinderhuis met Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, en Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, as gasvroue.
Volgens Van der Merwe het so ’n dinee vroeër jare plaasgevind en hulle het besluit om dit weer aan te bied. “Ons hoop dat dit ’n jaarlikse instelling sal word.”
Weesgerus-vakansieoord het hul saal beskikbaar gestel vir die glansgeleentheid en die polisie-orkes het gratis opgetree.
“Dit was ’n suksesvolle geleentheid. “Die gaste, sommiges wat van die stad af gekom het, het die aand geniet en ons kon ’n redelike bedrag insamel,” het Van Der Merwe gesê aan Die Pos gesê.
Sy het die gaste bedank vir hul ondersteuning en verduidelik dat die kindershuis jaarliks R10 miljoen nodig het om hul deure oop te hou en die meer as 170 kinders te versorg.
Hulle ontvang slegs 45% van dié bedrag van die regering en maak staat op fondsinsamelings en skenkings uit die gemeenskap.
Sy het die groot nuus gedeel dat hulle ’n skenking van Kersliggies (’n hele vrag vol) van ’n ouetehuis in die Kaap ontvang het. “Ons beplan om soos ander kinderhuise jaarliks ’n groot Kersliggiefees vir die hele omgewing as fondsinsameling aan te bied,” het sy gesê.
Sy het weldoeners aange-moedig om nog meer Kersliggies aan die kinderhuis te skenk sodat hulle die dorp behoorlik rooi kan verf tydens die komende Kersseisoen.



