’n Dief wat op Maandag 2 Julie vrygelaat is nadat hy ’n opgeskorte vonnis in die Bela-Bela-landdroshof opgelê is vir huisbraak en diefstal, is skaars ’n week ná sy vrylating weer in hegtenis geneem.
Shimane Monageng (19) is in Junie met vier huisbraaksake in die omgewing verbind waarop hy skuld beken het. Die hof het hom tot drie jaar tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is. Hy is vrygelaat op voorwaarde dat hy nie weer ’n misdryf pleeg nie.
Die polisie het Monageng weer in hegtenis geneem nadat hy glo op Maandag 9 Julie by ’n winkel in die Bela-Bela-township ingebreek en kos gesteel het.
Volgens sers. Frans Sekgobela, ondersoekbeampte, het Monageng voorheen saam met Steve Maluleka (20) en Kobus Pholoba (27), twee ander diefstalverdagtes, eiendomme in die omgewing geteiken.
Maluleka is in ’n huis in Van Stadenstraat in hegtenis geneem toe hy in Junie van die polisie, Galven-sekuriteit en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) probeer vlug het. Hy het glo onder ’n sitkamerbank probeer wegkruip.
Pholoba is in Uitbreiding 9 en Monageng in die Denoza-nedersetting in die township aangekeer. Monageng het ook van die polisie probeer vlug en in ’n huis onder ’n bed probeer wegkruip, het Sekgobela gesê.
Sekgobela het vroeër gesê die drie het nooit vir lank op dieselfde plek gebly terwyl hulle misdrywe gepleeg het nie. Hulle het veral in die leë Heropbou- en Ontwikkelingsprogramhuise (HOP-huise) in Uitbreiding 9 gebly.
Maluleka word volgens die polisie met 21 huisbraak- en diefstalsake verbind terwyl Pholoba en Monageng albei met vier verbind word.
Monageng is nou wéér aangekla van inbraak en omdat hy sy vonnisvoorwaardes oortree het.
Hy het op Donderdag 19 Julie weer in die hof verskyn om aansoek te doen om borgtog, maar hy het die aansoek laat vaar. Die saak is uitgestel na Donderdag 16 Augustus.
Maluleka het op Maandag 23 Julie weer in die hof verskyn. Sy saak is na Donderdag 23 Augustus uitgestel sodat uitstaande verklarings ingedien kan word. Pholoba sou op Maandag 30 Julie weer verskyn het. Al drie verdagtes bly in aanhouding.
- Die Bela-Bela-polisie waarsku inwoners van die omgewing om nie nalatig met hul eiendom te wees nie en om enige verdagte optrede onder die polisie of die plaaslike reaksiespan (RSRT-buurtwag) se aandag te bring.
Die Bela-Bela-polisie kan geskakel word by tel. (014) 736 9760/1. Vir RSRT kan inwoners vir Alex Poalses bel by tel. 083 252 3030 of vir Gerhard Olivier by tel. 079 527 9988.



