CrimeNews

Modimolle-sakevrou in hof oor handtekening

Anita van Niekerk verskyn op ’n bedrogklag nadat sy na bewering haar werkgewer se handtekening op ’n aansoek by ’n motorhandelaar vervals het.

Die verhoor van ’n sakevrou van Modimolle wat van bedrog aangekla word, het verlede week in die hof in die dorp voortgegaan.

Anita van Niekerk verskyn op ’n bedrogklag nadat sy na bewering haar werkgewer se handtekening op ’n aansoek by ’n motorhandelaar vervals het. Van Niekerk het glo volmag gehad om namens die werkgewer te teken, maar sy het volgens die polisie nie haar eie handtekening op die dokumente aangebring nie, maar haar werkgewer s’n vervals.

Van Niekerk se eertydse werkgewer, Pieternella Jacobs, is deur Van Niekerk se prokureur, Stef Kruger, gekruisondervra. Die saak word deur landdros Pieter Man-thata aangehoor.

Die hof het gehoor dat die klaer en beskuldigde voorheen boesemvriende was. Jacobs het getuig dat sy die volmagvorm geteken het sonder dat sy dit gelees het omdat sy Van Niekerk vertrou het. Sy het verder getuig sy het Van Niekerk gehelp om ’n onderneming wat drukwerk doen, Modimolle Printing, op die been te bring. Die onderneming en bankrekeninge was in Jacobs se naam, maar is volgens haar deur Van Niekerk bedryf. Jacobs het gesê dat sy nie insae gehad het in wat met die onderneming se bankrekening gebeur nie. Van Niekerk het volgens haar al die transaksies behartig. Jacobs het gesê om iemand vol-mag te gee, beteken nie dat hulle ’n hand-tekening mag vervals nie.

Die verdediging betwis Jacobs se weergawe dat Van Niekerk die enigste een was wat die onderneming se bankrekening gebruik het.

Die saak gaan van 19 tot 21 November voort. Die staat het aangedui dat hulle nog etlike getuies gaan roep.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button