Local newsNews

Lei my na die Waterberg; na waters waar rus is

“Hoe meer mense jou welkom heet, hoe meer welkom voel ’n mens!”

Met dié dat die Kapenaars deesdae toenemend gebuk gaan onder die ergste droogte in jare, ’n vlaag ongekende misdaad, asook erge verkeersprobleme, het die noorde van die land weer vir baie huiskopers aanloklik geword.

Veral die Waterberg met sy lieflike klimaat is volgens kenners (én talle inwoners met wie Die Pos onderhoude gevoer het) deesdae gewild onder jongmense wat hul kinders in ’n rustiger omgewing wil grootmaak, asook pensioentrekkers wat streef na ’n veilige, vredevolle aftrede.

Die Pos se lesers het ook tydens ’n onlangse peiling op ons webblad behoorlik die Waterberg besing.

Jackie Mostert sê nadat sy 14 jaar gelede na Modimolle verhuis het, het sy binne twee jaar gevind dat almal haar op die naam groet. “Hoe meer mense jou welkom heet, hoe meer welkom voel ’n mens!”

Volgens Mariëtte Nicholson van Modimolle het Waterbergers nog tyd vir mekaar. “In die stad is mense geneig om by mekaar verby te leef. Natuurlik is ons net so besig soos stadsjapies — indien nie besiger nie — maar die Waterbergers máák tyd vir mekaar. Ons het gehaltegesinstyd en baie gemeenskapsprojekte.”

Elsabe Tullues vertel sy woon al 44 jaar in Bela-Bela. “Ek het my kinders hier grootgemaak en my ouers hier afgegee. Ek sal ook hier begrawe word, want ek het rus vir my siel in Bela-Bela gevind.”

Rinnuccia de Villiers, wat uit die Waterberg Kaap toe verhuis het, sê sy verlang erg na die warm harte van die Waterbergers.

Kenau Meinster, ’n natuurliefhebber van Settlers, sê inwoners kan elke naweek op verskillende staproetes in die natuur gaan, perdry of aan wonderlike klubs vir boomidentifisering, fotografie en vele meer behoort. “Alles gebeur in ’n gemaklike radius om jou … en die lug is heel varser as in Johannesburg!”

Nog lesers besing die Waterberg se sonsondergange, natuurskoon en die feit dat dit “net naby genoeg en net ver genoeg” van Pretoria is vir wanneer ’n mens werklik iets nodig het. Hulle is ook dol oor die vars lug, natuurskoon en lae lewenskoste.

Inwoners van Bela-Bela is veral baie positief oor dié dorp se mediese dokters en die feit dat spesialiste van die stad dié dorp weekliks besoek om pasiënte te sien. Bela-Bela se baie aktiewe en pragtige rolbalklub is ook iets wat pensioentrekkers se harte warm laat klop.

Loua Boshoff, eienaar van Re/Max Bushveld in Bela-Bela, woon sy hele lewe lank in die Waterberg. “Ek ry maksimum vyf minute van my huis na my kantoor en ek laai self my kinders ná skool op sodat almal saam lekker middagete kan geniet voordat hulle aktiwiteite begin. Alles is letterlik vyf minute ver; dus kan die kinders aan meer aktiwiteite deelneem as stadskinders. Nog ’n lekkerte is dat ons kinders nog in die straat kan fietsry. Ons het nie altyd die spoggerigste winkels nie, maar Takealot lewer enigiets binne twee dae by jou huis af,” sê hy.

Ook Kotie Wagner, Die Pos se ontvangsdame in Bela-Bela, woon al haar hele lewe in die Waterberg.

“Mense gee regtig om vir mekaar. Kyk maar wat gebeur as iemand teëspoed optel — mense gaan help en samel geld in om ander weer op die been te kry; hulle staan nie net en selfoonvideo’s maak nie,” sê Wagner. “Wat nog lekker is, is die feit dat ’n mens die boere ken en direk by hulle varsprodukte kan koop.”

Ds. Theuns Kriek, NG-predikant in Bela-Bela, sê hy voel bevoorreg om al bykans 29 jaar in die dorp te woon. “Een van die lekkerste dinge wat ek op die platteland beleef, is dat ek vriendelikheid ontvang en vriendelik kan wees. Oral waar ek gaan — in ’n winkel, by die poskantoor, in die bank, ag by bykans elke plek — tref ek iemand aan wat ek ken en kan groet. Hier is ek iemand met ’n naam en nie net ’n gesig nie.”

Wiets Botes, sakeman en politikus van Modimolle, woon sy hele lewe in die omgewing en sê dis die mense wat hierdie ’n lekker plek maak. Volgens hom vertrou mense mekaar nog en kan ’n mens klere op “sig” by ’n winkel neem en “gentleman’s agreements” aangaan. Hy sê daar is min wat by die seisoen se eerste Bosveld-donderstorm kan kers vashou.

Delmarie Lourens van Modimolle sê dat huise op die platteland se voordeure meestal in onbruik is want almal gebruik die agterdeur en gaste is tuis in die kombuis. “Jou dokter, tandarts, apteker, veearts en dominee is 24 uur op bystand en hul selfoonnommers is geen geheim nie. Trek is nie vir ons ’n opsie nie.”

Dalene Kriel van die Brakanjan Speelskool in Modimolle, woon sedert 1982 in die dorp. “Die platteland is eintlik ’n uitgebreide familie. Hier ken ons mekaar, help mekaar se kinders groot maak, bid saam, huil saam en lag saam.”

Die voorsitter van die Naboom-sakeforum en eienaar van OK Foods in Mookgophong, Mokone du Preez, is passievol oor die Waterberg-omgewing. Hy is in die ou Naboomspruit gebore en getoë, was vir ’n paar jaar weg, maar is reeds vir die grootste deel van die afgelope dekade terug in sy hartland. Hy glo dat daar ongelooflike geleenthede in Mookogphong opgesluit lê. “Rondom Mookgophong, in die meer bergagtige gedeeltes, is daar van die mooiste wildsplase, lodges en vakansieoorde. Buiten die toerismepotensiaal is dit ’n groot voorreg om in die hartjie van dié paradys te leef.

Vir hom is die Waterberg se mense die grootste bate.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Die Pos as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button