CrimeNews

Passasier dood buite Modimolle nadat hy glo wapen gryp

’n Manlike passasier het naby Mookgophong een van die verdagtes se wapen probeer gryp, maar is gewond.

’n Tragedie het die afgelope week op die N1-snelweg buite Modimolle afgespeel toe vier mans, wat hulself glo as passasiers onderweg na Zimbabwe voorgedoen het, ’n man in ’n minibustaxi doodgeskiet het.

Die bestuurder van die minibus het, volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, op Woensdag 1 Augustus vroegoggend 22 passasiers by Parkstasie in Johannesburg opge-laai. Hulle was op pad Zimbabwe toe.

“Die vier passasiers het glo op die N1-snelweg naby die Kranskop-tolhek aan die bestuurder gesê om van die pad te trek sodat hulle kan urineer. Hulle het die ander passasiers daarna met ’n wapen aangehou en hulle van kontant en selfone beroof,” het Findlay gesê.

Van die passasiers het die hasepad gekies. Dit het net voor 06:00 gebeur.

“Die mans het die bestuurder gedwing om verder te ry. ’n Manlike passasier het naby Mookgophong een van die verdagtes se wapen probeer gryp, maar is gewond. Die aanvallers het daarna op die vlug geslaan. Die busbestuurder het omgedraai en terug na die tolhek gery om ’n ambulans te ontbied en na die passasiers wat gevlug het, te soek,” het Findlay gesê.

Die gewonde man, wie se identiteit nie bekendgemaak is nie, het intussen aan sy beserings beswyk.

Die aanvallers is volgens die polisie nog op vrye voet. Die polisie ondersoek ’n saak van moord en gewapende roof.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button