
Daleen Steynberg, Bela-Bela, skryf:
Daar is iets wat ek nie kan verstaan nie.
Paaie word oral versper, buitebande gebrand, winkels afgebrand, mense vermoor, voertuie aan die brand gesteek of met bakstene bestook, maar daar is geen dienslewering, krag of water nie, riviere is besoedel en duisende mense is ontevrede met die huidige regering.
Wanneer stemtyd egter aanbreek, word daar weer en weer vir die regerende party met hul allerhande en onmoontlike leë beloftes gestem. Inwoners is al so moeg gekla en om foute aan te meld waaraan niks gedoen word nie.
Dit is egter deesdae tydmors om mense te oortuig om vir iemand anders te stem, want hulle word kwaad vir jou.
Al wat ek vir ons inwoners kan aanbeveel is om vir iemand te stem wat werklik ’n verskil kan maak.
Ons moet nou asseblief saamstaan en inwoners moet die mense wat geen diens lewer nie, druk waar dit die seerste maak.
Waarom suig inwoners steeds aan die agterspeen? Dit moet stopgesit word.



