LettersOpinion

Projek Nehemia beveg misdaad

Daar word gefokus om misdaad te bekamp en om gemeenskapslede by te staan om hulself deur middel van beter organisering meer weerbaar te maak.

Jaco Grobbelaar, AfriForum: distrikskoördineerder, Limpopo, skryf:

AfriForum se Ellisras-tak het verlede naweek Projek Nehemia — ’n strategie teen geweldsmisdaad — in dié dorp van stapel gestuur.

Daar is tydens ’n beplanningsessie op verskeie aspekte gefokus om misdaad in die Waterberg-distrik te bekamp en om gemeenskapslede by te staan om hulself deur middel van beter organisering meer weerbaar te maak.

Gemeenskappe moet self verantwoordelikheid vir hul veiligheid neem. As ons saam-werk, kan ons ons gemeenskappe proaktief beveilig en Projek Nehemia doen juis dít.

Die inherente operasionele vermoëns tussen verskillende gemeenskappe kan deur hierdie strategie op ’n doeltreffende wyse gekoördineer word. Daar kan met Projek Nehemia se verskerpte gemeenskapsintelligensieprojekte nóg meer proaktief teen geweldsmisdaad opgetree word.

Hierdie proaktiewe misdaadbekamping-strategie fokus op samewerking tussen die gemeenskap se verskillende veiligheids-organisasies.

AfriForum se Nylstroom-, Warmbad-, Ellisras-, Tzaneen- en Marble Hall-buurtwag, asook verteenwoordigers van gemeenskaps-polisiëringsforums (GPF), sekuriteits-maatskappye en gemeenskapslede uit Lephalale het aan die beplanningsessie deelgeneem.

Gemeenskappe moet self organiseer en betrokke raak om hul veiligheid te verseker. Ons kan nie op die polisie alleen steun om veiligheid te verseker nie aangesien hulle eenvoudig nie die vermoë het om dit te doen nie.

Die samewerking van alle betrokkenes by veiligheid is van uiterste belang om ’n verskil te maak.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke deur ’n SMS met die woord “Buurtwag” na 45340 (R1) te stuur.

Related Articles

Back to top button