Bêre die kontant en bring eerder die bankkaart — dan kry korrupsie nie vatplek nie.
Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, versoek inwoners van Modimolle om liefs met hul bankkaarte te betaal wanneer hulle die dorp se verkeers- en lisensiekantore besoek.
“As daar minder kontant beskikbaar is, is die kanse vir korrupsie soveel minder. Die lisensiekantore se kaartstelsel is direk aan die departement van vervoer se bankrekening gekoppel, wat beteken dat hulle hul geld onmiddellik in hul bankrekening ontvang. Dit is vir ons voordelig, want dit beteken dat ons dan nie agterstallig raak met betalings nie wat tot gevolg kan hê dat hulle papier en ander dienste weerhou. Ons sal bly wees as inwoners hiermee kan help,” het sy gevra.
Volgens Van Staden het die departement van vervoer ’n paar weke gelede ’n oudit van die geldsake by die munisipaliteit se verkeerskantore gedoen. “Ons wag nog vir terugvoer daaroor,” het sy gesê.
Forensiese ondersoekers is tans besig om die munisipaliteit se boeke te fynkam vir tekens van korrupsie nadat die raad op Donderdag 2 Augustus eenparig ten gunste daarvan gestem het. “Ons kyk na alle dele van ons inkomste, waaronder die verkeers- en lisensiedepartement. Die kantore bring tans nie baie geld in nie. Ons wil seker maak dat die fokus op dié bron van inkomste is en dat ons alle moontlike geld inkry,” het sy gesê.
“In die verlede het ons gesukkel met wanbesteding van geld, wat die rede is hoekom die kaartmasjien direk aan die departement se rekening gekoppel is. Sodoende kan die geld nie verdwyn nie en die ongeveer R12 miljoen wat per jaar daarmee ingesamel word, beland waar dit hoort.”
Van Staden het gesê daar is reeds ’n volledige ondersoek gedoen by die verkeers- en lisensiekantore in Mookgophong en dat hulle die verslag eersdaags sal ontvang. Talle gevalle van korrupsie is glo oopgevlek soos die verkeerdelike uitreiking van rybewyse, veral vir vragmotorbestuurders. Daar was volgens Van Staden ook korrupsie by die uitreiking van leerlingrybewyse.
“Ons moet seker maak dat dieselfde probleme nie ook hier in Modimolle opduik nie. Ons stop al die gate toe waarin die munisipaliteit se geld kan verdwyn,” het sy gesê.



