Local sportSport

Nylies bult hul spiere by liggaamsboukampioenskap

“Dit was glad nie maklik nie.”

Twee fikse inwoners van Modimolle kon die vrugte van baie ure se harde werk en uithouvermoë in die gimnasium pluk.

Armand en Annelise Oeschger het op Saterdag 18 Augustus aan die Noord-Gauteng liggaamsboukampioenskap deelgeneem. Die 31-jarige Armand het ’n tweede plek in die atletiese liggaamsbou-afdeling behaal en is genooi om van 13-16 September aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap, wat in Rustenburg gehou word, deel te neem. Hy het ook ’n uitnodiging ontvang om deel te neem aan die Arnold Classics-byeenkoms.

“Om genooi te word om aan die Arnold Classics deel te neem is ’n besondere prestasie,” het Japie Botha, hul afrigter, gesê.

Die 27-jarige Annelise het ook skoonskip gemaak in die afdeling waarin sy deelgeneem het en ’n eerste plek behaal in die afdeling vir strandbikini’s. Nie sleg vir ’n ma van twee jong kinders nie! Die egpaar oefen al die afgelope vyf jaar, maar het eers die laaste sewe maande ernstig vir kompetisies begin oefen.

“Dit was glad nie maklik nie. Dit was vir my een van die grootste uitdagings in my lewe. Emosioneel was dit moeilik om ‘my kop reg te hou’. Ek en Armand het net ná 03:00 soggens begin kardio-oefeninge doen en ons moes ses keer ’n dag eet. Om die regte kos in te pak, het ook tyd in beslag geneem. Ek moes ook na my twee- en sesjarige kinders omsien,” het sy gesê. Sy werk as ’n finansieringsbestuurder by ’n motorhandelaar in die dorp. “Ek het geleer dat ’n mens sterker is en tot meer in staat is as wat ’n mens dink jy is,” het sy gesê.

Armand is reeds weer hard aan die oefen vir sy deelname aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap. Hy is ’n bestuurder by ’n groothandeldrankwinkel in Mookgophong.

Related Articles

Back to top button