Local newsNews

Bly koelkop, hoor boere

“Die boere in Zimbabwe het gedeelde burgerskap gehad en hulle kon uit Zimbabwe skuif. Hier in Suid-Afrika het ons dit nie en ek gaan beslis nie Australië toe nie.”

Dit is nou die tyd om koelkop te wees, was die boodskap aan boere en diegene betrokke by landbou tydens Agri Limpopo se kongres.

Die kongres, wat deur verskeie kenners in die bedryf toegespreek is, is op Woensdag 22 Augustus by die Weesgerus-vakansieoord buite Modimolle gehou.

Die grondkwessie en wat boere in die komende maande kan verwag, was die dringendste onderwerpe.

Dan Kriek, president van Agri SA, het die gehoor toegespreek.

Kriek het die dag vantevore saam met dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, met pres. Cyril Ramaphosa en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister in die presidensie, ’n ontmoeting oor die grondkwessie gehad.

Hy het gesê die vergadering het goed verloop, maar dat hy nie nou al “sterre in die oë” het nie.

Kriek het boere aangeraai om kalm op te tree.

“Om aan te hou om met die regering te praat, was nog altyd ons strategie,” het hy gesê.

“Die boere in Zimbabwe het gedeelde burgerskap gehad en hulle kon uit Zimbabwe skuif. Hier in Suid-Afrika het ons dit nie en ek gaan beslis nie Australië toe nie.”

Kriek het gesê boere in Zimbabwe het buite die politiek gebly en het toe alles verloor. Hy het klem daarop gelê dat georganiseerde landbou ten alle koste kommunikasiekanale met die regering moet oophou omdat hy vermoed dat juis dít een van die bydraende probleme in Zimbabwe was.

Hy het gevra dat boere moet vertrou dat Agri SA hul belange beskerm.

Prof. André Duvenhage, ’n politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, het ’n donkerder prentjie geskets van ’n land wat op ’n mespunt is. Duvenhage het gesê die volgende nege na twaalf maande is krities vir die staatkundige ontwikkeling van die land. Besluite wat nou geneem word, sal verreikende gevolge hê vir die volgende vyf na tien jaar. Hy voorsien dat daar teen 2030 so min as 8 000 kommersiële boere in die land oor kan wees.

Duvenhage glo dat dit nie ’n uitgemaakte saak is dat Ramaphosa stewig in die ANC-saal is nie, maar het gesê as Ramaphosa ná die verkiesing aan die stuur van die ANC is, dit die beste scenario vir landbou sal wees. Hy het gesê landbou moet verwag dat Ramaphosa ’n vroeër verkiesing kan afkondig, selfs so vroeg as Februarie aanstaande jaar, om die Zuma-faksie se mobilisering te strem. Volgens Duvenhage is daar berigte dat dié faksie besig is om ’n nuwe party in KwaZulu-Natal op die been te bring.

“Draai die perspektief sodat landsburgers besef dat boere die land se goud is. Alle boere, wit en swart, moet betrek word,” het hy gesê. “Ons het leierskap nodig wat die verbeelding aangryp — hoekom het ons bang geword om standpunt in te neem?” het hy gevra.

“Die volgende ses maande gaan die moeilikste wees sedert die post 1994-era,” het hy gewaarsku. “Die ANC is besig met ’n groot stryd om te oorleef. Die party kan groot skade aanrig in hul stryd om te wen.” Hy het georganiseerde landbou aangemoedig om alles in die stryd te werp om eiendomsreg in Suid-Afrika te behou.

  • Die kongres is gevolg deur ’n twee dag lange grondberaad in Bela-Bela.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Die Pos as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button