MunicipalNews

EFF dreig om DA-burgemeester te onttroon

“Ons verwyder Modimolle se burgemeester volgende,” het Julius Malema, omstrede leier van die Economic Freedom Figthers (EFF), vandeesweek tydens ’n mediakonferensie gedreig.

Hy het dié uitlating gemaak nadat die EFF en ander opposisiepartye vir Athol Trollip en Jonathan Lawack, onderskeidelik die burgemeester en speaker van die Nelson Mandelabaai Metro (Port Elizabeth) Maandag uit die stoel gelig het in ’n mosie van wantroue.

Malema het tydens die onderhoud, wat op ENCA uitgesaai is, gesê sy party het “samewerking” met ander partye ’n kans gegee om te sien of dit werk. Die DA in samewerking met die EFF en die VF-Plus, regeer die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, maar Malema beskuldig die DA daarvan dat hulle “geen respek vir hul vennote het nie”.

“Die burgemeester in Modimolle het geen agting vir die EFF nie, niks nie. Ek dink sy is volgende. Ons gaan ons nie laat gevange hou deur die arrogansie van die DA nie; ons skuld hulle niks nie,” het hy gesê.

Tydens die munisipale verkiesing wat in 2016 gehou is, het die ANC 13 setels, die DA sewe setels, die EFF ses setels en die VF-Plus twee setels behaal en het die DA, EFF en VF-Plus besluit om saam te werk. Dié verhouding was die afgelope twee jaar egter dikwels gestrem met die EFF en DA wat tydens stemming verskillende kante ondersteun het.

Van Staden het by navraag aan Die Pos gesê: “Ons gaan voort met ons werk. Ons werk is om die inwoners van die munisipaliteit te dien deur die geldsake van die munisipaliteit te stabiliseer, korrupsie hok te slaan, goeie dienste te lewer en ’n klimaat te skep waar werkskepping kan plaasvind. Ons sal nie van stryk gebring word deur dié wat die munisipaliteit vir eie gewin wil laat ineenstort nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button